Jy kan ‘n lae opbrengsomgewing oorleef

0
1951
Jy kan 'n lae opbrengsomgewing oorleef

Ek het onlangs ‘n aanbieding van Coronation-fondsbestuurders bygewoon waar Karl Leinberger (Hoofbeleggingsbeampte – Coronation) sy siening rondom die huidige lae opbrengsomgewing gedeel het.
Coronation is redelik oortuig daarvan dat die meeste bateklasse se opbrengste laer gaan wees in vergelyking met die opbrengste van die laaste dekade. Karl het egter ‘n paar wenke gehad wat beleggers kan help om steeds aanvaarbare opbrengste te bewerkstellig, ten spyte van die druk waaronder finansiële markte verkeer.
Eerstens, moet jy seker maak dat die fondsbestuurders wat jy gebruik vaardig is. Vaardige fondsbestuurders sal in moeilike tye beter en meer gereeld die regte besluite kan neem. Tweedens, moenie jou blootstelling aan risikobates (aandele en genoteerde eiendom) minder maak in dié moeilike tye nie. Om blootstelling aan aandele en genoteerde eiendom te hê, is jou enigste hulpmiddel om oor die langer termyn inflasie uit te presteer. Derdens, sal fondsbestuurders, wat aktief op soek is na goedkoop bates en ontslae raak van duur bates, waarde toevoeg tot jou portefeulje, teenoor meer passiewe oplossings. Vierdens, wanneer jou beleggingsportefeulje gestruktureer is, en bestaan uit kwaliteit-fondsbestuurders, moet jy moed hou en by jou strategie bly. Moenie jou beleggingshorison verkort as gevolg van negatiewe marktoestande nie; verleng dit eerder. Vyfdens, die geskiedenis het al gewys dat jy beter af sal wees deur net te bly by jou langtermyn-beleggingstrategie. Tydens negatiewe marktoestande sal jy gewoonlik die drang kry “dat jy iets moet doen”. Ignoreer die drang, en doen eerder net niks. Dan, laastens, dit kan nie nét goed gaan met beleggings nie. Soms moet jy maar in die kort termyn bietjie pyn (volatiliteit en negatiwiteit) vat, sodat jy op die lang termyn beloon kan word.
Laat weet my gerus indien jy enige vrae het rondom jou beleggingsportefeulje en die huidige marktoestande deur ‘n e-pos te stuur aan horace@nassaux.com. – Horace Terry