OWEN KOCK
“Ons het bitter baie goeie jare agter die blad, want ouens wat stukkend was, stap gelukkig en heel hier uit.” Dít is hoe die bevelvoerder van 3 Militêre Hospitaal by Tempe, Kolonel Derek Matthee, die hospitaal se 50-jarige bestaan Vrydag met die amptelike verjaarsdag aan Courant beskryf het. Op 1 Februarie 1963 is die hospitaal amptelik sy naam gegee, ná die geboue reeds bestaan het. Maar, soos Matthee sê, is hulle besig om ’n nuwe rok aan te trek. “Die ou dame is vandag (Vrydag) 50 jaar oud en ons is baie bevoorreg. In 2004 het ons begin bou en ons is amper klaar. Ons nuwe rok is amper aangetrek. Ons sit nog net ’n soom hier en daar in en maak ’n naat hier en daar reg, dan is ons een van die dae klaar,” het Matthee trots vertel.
Dit is dan ook waar hy wil aftree, sê hy en skerts oor hoe hy sy bleskop deurmekaar sal moet maak as hy aan al die goeie ou dae moet dink. Hy gaan sy bokke op die plaas oppas as hy afgetree het, vertel hy. Hy was voorheen ook die bevelvoerder by 2 Militêre Hospitaal in Wynberg in Kaapstad voor hy die pos in Bloemfontein ingeneem het. Die hospitaal is operasioneel en op bystand vir alle militêre personeel en hul afhanklikes, asook veterane. Trauma word verwys na hul susterhospitale, maar hulle doen vir hul mense wat hulle kan het Matthee die versekering gegee. “Ons beskou onsself as ’n familie hier. Ons lag baie en ons huil baie, maar ons is ’n familie.”
Natuurlik was daar oor die laaste 50 jaar goeie en slegte dae, maar die laaste vyf jaar meen Matthee, het hy dag-vir-dag as ’n absolute plesier beleef. “Ons het deur vernuwing gegaan, demokrasie het gekom, wonderlike nuwe mense is ingekry en die soldate is elke dag baie dankbaar vir die diens wat ons aan hulle lewer. Ons is nou wel nie so groot soos 1 en 2 Militêre Hospitale nie, maar hoe kleiner jy is, hoe groter is die band tussen mense.”
En hoe besig is 3 Militêr in Bloemfontein?
“Soos die seisoene aangaan word daar mos gesê. Eendag snotneuse en die volgende dag oë wat drup en die volgende dag kom daar ’n ongeluk in. So dit hang maar af, sommige dae is ons besiger as ander. Só besig dat ons baie hard werk en ander dae nie en dan kan ons daardie ekstra tender love and care aan ons pasiënte gee,” het Matthee met oortuiging afgesluit.
Hy nooi die publiek om self te kom kyk hoe die hospitaal bedryf word. Hulle sal met ope arms ontvang word.