E Copy

Date:

Kolskoot

Goeiedag

“Manne, ek kry nie vat aan Allister Coetzee se Springbok-groep vir die eerste twee Rugbykampioenskap-toetse teen die Poemas op 20 Augustus in die Mbombela-stadion en ’n week later in Salta, Argentinië, nie.

“Daar is net te veel oorsese spelers in die groep. Op grond waarvan het hy Juan de Jongh weer terug op senter en waar het Francois Louw en Duane Vermeulen hul slag sedert die reeks teen die Iere gewys? Moes hy nie liewer plaaslike vormspelers soos Francois Venter op buitesenter gekies het nie?” begin Sporie Bezuidenhout ons indaba verontwaardig.

Bontie Bonthuys is onmiddellik op sy agterpote. “De Jong was by die Blitsbokke betrokke, daarom kon hy nie sy slag wys nie. Hy verdien ’n kans. Ek is ontevrede oor die keuses van Francois Hougaard, wat ook by die Blitsbokke was, en Lwazi Mvovo, wat as vleuel nie die mas teen die Iere opgekom het nie, asook Morné Steyn se insluiting as tweede of derde losskakel. Onthou, Johan Goosen kan op losskakel, heelagter en senter deur ons Bok-breier ingespan word. Steyn is verby sy beste en as hy speel, gaan die Bokke weer op hul ou gewoontes van skop en stampkar-rugby terugval!”

“Kalm bly, manne. Kom ons ontleed die Bok-groep. Onthou, daar is sewe spelers wat weens beserings nie oorweeg word nie en dit sluit die losskakel, Pat Lambie, en binnesenter, Jan Serfontein, in. Ek dink daar is redelike balans in die span met baie ervaring en jong spelers wat op die oomblik uitblink. Dit is waarom daar nege Leeus in die span is. Dalk is daar te veel oorsese spelers gekies en in die lig daarvan dat die jong Malcolm Marx as haker die span gehaal het, kon Coetzee net sowel die 21-jarige, Ox Nche, wat los- en vaskopstut kan skrum, nadergetrek het. Daarby sou ek ook Venter op senter ingesluit het. Hy is, soos Nche, die afgelope paar maande ’n uitblinker,” probeer Oom Sjert die manne rustig te kry.

“Nee! Met nege Leeus in die groep is dit ’n duidelike bewys dat ons Bokbreier ’n nuwe benadering by die Bokke wil kweek, maar dan maak die insluiting van ou manne soos Louw, Vermeulen en Steyn nie sin nie. Die boodskap is nou dat Coetzee skrikkerig is om ’n nuwe rigting in te slaan. Om ervaring te behou is daar mos spelers soos Bryan Habana, Adriaan Strauss en Beast Mtawarira, wat dit kan bring. Ek dink nie hy stuur ’n duidelike boodskap uit nie,” laat Stywelip Carrington van hom hoor.

“Manne, vergeet eers die rugby. Dit is Olimpiese Spele en Cameron van der Burgh het ons eerste medalje verower. Hy moes met ’n silwer tevrede wees, want die Brit, Adam Peaty, het die 100-borsslag in ’n nuwe wêreldrekordtyd gewen. Daarby het ons twee padfietsryers, Louis Meintjes en Ashleigh Moolman-Pasio, onderskeidelik sewende en tiende in hul onderskeie wedrenne geëindig. Ek geniet my gate uit,” verander Botterbul Bester die onderwerp.

Die ander byt nie en hulle begin kla oor die OP Kings se deelname aan die Curriebeker-rugbyreeks en toe begin almal stry.

Groetnis

Share post:

Popular

More like this
Related

Ondersteun Corban se stamselbehandeling

Corban Pretorius is op die ouderdom van 18 maande...

‘Robin in the Hood’ brings laughs and magic to the Rabbit Studio stage this June

Xander Art Productions, in association with The Rabbit Theatre...

Local short film ‘Vultures’ shines at Cannes

A local short film, “Vultures”, has soared to international...

PROMOSIE: ’n Kwarteeu van kuns en kultuur: Vrystaat Kunstefees vier 25 jaar

In die hart van die Vrystaat vier die Vrystaat...