Die kranige Bloemfonteinse fietsryer, Tanya Kirstein (Enduroplanet), het Saterdag in die 103km-wedren van die Enduroplanet-bergfietsbyeenkoms, wat by The Willows in Bloemfontein aangebied is, met ‘n voorslagvertoning in die vroue-afdeling vorendag gekom.
Die byeenkoms, wat 296 deelnemers gelok het, is deur Dusty Rides aangebied.
Die 22-jarige Kirstein, wat die fietsrysport reeds sewe jaar beoefen, het heelparty manne op hul herrie gegee toe sy algeheel 14de uit die meer as 50 deelnemers in die langste wedren van die byeenkoms geëindig het. Sy het die onderskeidelike tweede- en derdeplek-jaers onder die skoner geslag, Heidie Oberholzer en Isabelle Beyleveld, gerieflik agterweë gelaat.
Ná slegs drie jaar se deelname aan fietsry het Kirstein reeds die land se voorste jaers deeglik van haar laat kennis neem toe sy in 2012 die nasionale Ashburton-bergfietsreeks, wat oor sewe marathonwedrenne beslis is, gewen het.
Jy gaan moeilik ‘n pa-en-seun-fietsrykombinasie in Suid-Afrika teëkom soos Dirk (pa, CycleWorld) en Rinus Maarsingh (Grey). Dié ysters van die Rosestad, wat gereeld saam op die podium in groot wedrenne in die land in die tandemafdeling verskyn, was Saterdag in die 103km elkeen op sy eie fiets en was behoorlik in mekaar se hare in die manswedren.
Rinus (17-jaar) het egter oor die laaste ses kilometer die oorhand oor Dirk (49-jaar) gekry en sy pa met sowat 200m in die tweede plek ingedwing. Dirk moes op sy beurt alles uithaal om vir Gerhard Germishuys (derde) naelskraap te klop.
Dirk het aan Courant gesê: “Ons was wel eerste en tweede, maar ek haal my hoed af vir die Grey-man, Pieter-Ben Korkie, wat vierde geëindig het. Net toe ons dink hy het te ver teruggeval in die wedren, het Korkie teruggeveg om ons aan te vat. En, dit het groot veggees getoon.” Hy het bygevoeg dat die byeenkoms goeie oefening was vir Rinus, wat Saterdag in Pietermaritzburg aan die wêreldreeks vir juniors in die veldrenne gaan deelneem.
Die genoemde pa-en-seun-kombinasie het vroeër vanjaar die bronsmedalje by die Suid-Afrikaanse padwedrenkampioenskap in Durban in die tandemafdeling gewen.
In die 54km-bergfietswedren vir mans het Carl Coetzee die botoon gevoer. Hy is gevolg deur Johann Botha en De Klerk Jacobs. Mariska Steyn het in die vrouewedren die septer geswaai, terwyl Ronel Bouwer en Ankia Coetzee onderskeidelik tweede en derde was.
In die kortste (12km) bergfietswedren van die byeenkoms, was André Pretorius bobaas en Wiaan Grobbelaar moes hier met die tweede plek tevrede wees. Die vroue 12km is gewen deur Michelle Cronjé en sy is gevolg deur Benetha Jacobs.
Daar is ook ‘n 12km-hardloopwedloop aangebied. Justin Menenez en Lizelle van Loggerenberg het onderskeidelik die mans- en vroue-wedlope hul eie gemaak. – RUFUS BOTHA