Kolskoot

0
1291

Goeiedag

Almal is opgewonde en wil ‘n eiertjie lê. Bontie Bonthuys kry die eerste woord in: “Daar verower Branden Grace jou wrintiewaar sy eerste gholftitel in die Amerikaanse PGA-reeks toe hy die RBC Heritage-titel in South Carolina met twee houe voor die neus van Luke Donald en Russell Knox weggeraap het.

“Ek het spel tot ná middernag dopgehou en my senuwees was klaar toe hy, met drie putjies oor, een hou aan syfer afgestaan het, maar gelukkig het sy setstok warm gebly en kon hy ‘n rondte van 66 en totaal van 275 houe, nege minder as baansyfer, aanteken. Hy kan sy tasse maar pak vir die Olimpiese Spele.”

“Dis nie net Grace wat Suid-Afrika se naam hoog hou nie. Elf swemmers, wat Cameron van der Burgh, Chad le Clos, Sebastien Rousseau, Myles Brown en sewe ander insluit, het Olimpiese kwalifiserende tye aangeteken. Dit is jammer die veteraan Roland Schoeman en geen vroue-swemmer kon dit vermag nie. Daarby het ons roeiers twee goue en twee bronsmedaljes op die Wêreldroei-byeenkoms in Varese, Italië, verower,” laat Sporie Bezuidenhout van hom hoor.

“Moenie ons atlete vergeet nie. Caster Semenya het uitmuntend op Stellenbosch gevaar toe sy drie titels in die 400, 800 en 1 500 meter verower het en in die 400 en 800 het sy Olimpiese kwalifiserende tye gehardloop. Verskeie ander atlete, soos Wayde van Niekerk (400), het ook vir Rio de Janeiro gekwalifiseer. Maggies, dis lekker as ons sportlui presteer,” praat Stywelip Carrington saam.

“My hoop is steeds op die Blitsbokke gevestig. Hulle kon nie die sewesrugby-titel in Singapoer verower nie, maar hul derde plek, nadat Kyle Brown en sy manne onder meer 12-7 met die Nieu-Seelanders afgereken het en die Poemas 28-0 in die uitspeelstryd afgeransel het, gee my moed. Hulle was ook bitter ongelukkig om 21-26 teen Fidji vas te val.

“Sewesrugby bly vol verrassings. Kenia wen wraggies sy eerste titel ooit deur Fidji in die eindstryd 30-7 af te ransel. Enigiets kan gebeur en die feit dat die Blitsbokke nou weer die tweede plek op die wêreldranglys beklee, maak hulle nie een van die gunstelinge vir Parys se toernooi nie, want die Blitsbokke is in dieselfde groep as Engeland en die Wallabies,” laat Botterbul Bester van hom hoor.

“Ek verstaan julle nie. Superrugby kook! Ons Suid-Afrikaanse spanne – die Leeus en Stormers in hul klipharde stryd in Johannesburg, wat die Leeus 29-22 gewen het, die Bulle met hul sege van 41-11 oor die Reds op Loftus Versfeld en natuurlik die Toyota Cheetahs met hul uithalersege van ‘n allemintige 92-17 teen die Sunwolves in Bloemfontein – moes ons nuwe Springbok-afrigter, Allister Coetzee, breed laat glimlag het. Hy kan ‘n sterk Springbokspan vir die Iere kies,” laat Oom Sjert verontwaardig van hom hoor.

“Oom Sjert, wees dankbaar dit was Nic Berry en nie Stuart Berry nie wat vir die Cheetahs geblaas het, anders kon die telling anders gewees het. Stuart Berry is in een woord ‘swak’,” laat Bontie glip.

Wonder bo wonder stem die manne saam en begin hul Bok-kandidate soos Elton Jantjies noem.

Groetnis