2019, ‘n goeie rugbyjaar

0
499
Die Toyota Cheetahs-haker, Joseph Dweba, was vanjaar die span se uiblinker in die Curriebeker sowel as in hul Guinness PRO14-wedstryde tot dusver. Dit sal as geen verrassing kom as dié woelige speler in 2020 Springbok word nie. FOTO: NICOLETTE TALJAARD

Die rugbyseisoen in Bloemfontein het tot ‘n einde gekom vir die jaar en spelers geniet vir ‘n slag ‘n welverdiende blaaskans met die Guinness PRO14-aksie op ys vir die Toyota Cheetahs en die Southern Kings van die Baai tot aan die begin van 2020.

Dit gesê, kan mens terugkyk na 2019 en voel dit is maar een van die min positiewe in die streek. Die Springbokke is die Wêreldkampioene en die Vrystaat Cheetahs spog met die Curriebeker in hul trofeekas.

Die Universiteit van die Vrystaat Shimlas het vanjaar die halfeindstryd van die Varsitybeker-reeks bereik, waar hulle 47 – 5 teen die Universiteit van Stellenbosch Maties vasgeval het. Die Sentrale Universiteit vir Tegnologie Ixias het hul beste veldtog nog in dié gewilde reeks beleef en sal lank die 38 – 35-oorwinning teen die Shimlas onthou.

Hoewel die Maties die reeks vir twee jaar in ‘n ry gewen het, is hul afrigter van daardie tyd, Hawies Fourie, asook sterspelers soos Chris Massyn en Chris Smit na die Vrystaat gelok waar hulle tans vir die Cheetahs slyp en speel.

Die Vrystaat het vir ‘n sesde keer in hul geskiedenis die Curriebeker-trofee omhoog gehou nadat hulle in die eindstryd die Goue Leeus met 31 – 28 op die Toyota-stadion in Bloemfontein geklop het.

Franco Smith en sy manne het in hul veldtog die Blou Bulle, Griekwas, Poemas en die Streeptruie verslaan tydens die rondomtalie-ronde, terwyl hulle naelskraaps teen die Leeus en Haaie vasgeval het. In die halfeindstryd was die Haaie geen uitdaging vir die Cheetahs nie, en in die eindstryd was die Leeus se laat terugvegpoging tevergeefs. Die Vrystaat-haker, Joaeph Dweba, was gesamentelik die voorste driedrukker in die toernooi nadat hy sewe keer oor die doellyn gaan kuier het.

Smith het vir nog drie wedstryde aangebly as die Cheetahs se breier aangesien Fourie olik was, en hy het sy span berhoorlik gegroet met eerste PRO14-seges oor die Glasgow Warriors, Ulster en Munster. Met Fourie wat oorgeneem het, is die span dadelik oorsee maar het die Cheetahs egter teen Connacht, Scarlets in die Cardiff Blues vasgeval. Ná ‘n ruskans het die Cheetahs egter die Ospreys in Neath geklop. Die Cheetahs is op 4 Januarie weer in aksie teen Zebre in Parma, Italië.

Wat die Springbokke betref, was dit weer eens ‘n maer jaar met betreking tot Cheetahs-spelers in die span, maar ‘n mens kan juig oor die feit dat so baie oud-Cheetahs hul stempel op die spel afgedruk het in Japan. Dit sluit onder andere die afrigter, Rassie Erasmus, en verdedigingsafrigter, Jacques Nienaber, in. Dan was daar ook Vivian Verwant, die span se fisioterapeut. Die spelers was Duan Vermeulen, Makazole Mapimpi, Lood de Jager, Trevor Nyakane en Willie le Roux, asook Frans Steyn en Cobus Reinach, wat junior rugby vir die Vrystaat gespeel het.

Steyn is slegs die tweede Suid-Afrikaner en Vrystater om die Wêreldbeker twee keer te wen. Die ander een is die legendariese stut, Os du Randt. Du Randt was ook vanjaar in die nuus nadat hy by Wêreld Rugby se heldesaal ingesluit is en is slegs die 15de Suid-Afrikaner wat op die manier vereer is vir sy bydrae tot die sport.

En om mee af te sluit, kan ‘n mens nie vergeet van die 1ste rugbyspan van Grey-kollege nie. Die skolerugbyspan was vanjaar vir ‘n tweede jaar in ‘n ry die beste in die land en ook vir ‘n twee jaar onoorwonne teen albei Suid-Afrikaanse en oorsese spanne. Boonop was die o.17- Sewesspan die nasionale kampioen wat Grey die beste in Suid-Afrika maak in die 15- en 7-man-kode. – MORGAN PIEK