2019-matriekklas maak gemeenskap trots

0
4802
Matrikulante van 2019 en hul onderwysers het ballonne in die lug laat opgaan nadat die skoollied gesing is. FOTO: HEIDRE MALGAS

Die Heatherdale Sekondêre Skool het verlede week ‘n heerlike braai vir die 2019-matrikulante gehou om saam met hulle die heuglike geleentheid te vier nadat hulle die heel eerste matriekklas van Heatherdale is wat ‘n slaagsyfer van 100% behaal het.

Nie net het hulle die skool trots gemaak nie, maar ook die hele gemeenskap, want in die 33-jarige bestaan van die skool het dit nog nooit tevore gebeur nie.

Verna Jeremiah, prinsipaal van Heatherdale, het tydens haar toespraak aan die oudleerders gesê dat hulle hul skool, en veral vir haar, waarlik trots gemaak het. “Julle het ons almal trots gemaak, tot die LUR van Onderwys, dr. Tate Makgoe. het melding gemaak dat ‘n skool in Heidedal ‘n 100%-slaagsyfer behaal het,” het sy bygevoeg.

“Daar is so baie donkerte en negatiewe dinge wat ons van ons gemeenskap hoor en sien, maar julle het lig gebring. Ten spyte van sekere tekortkominge, ten spyte van watter omstandighede ook al, as ons glo, is ons tot enige iets in staat. Julle het die Bybelvers uit Fillipense 4:13, ‘ek is tot enige iets in staat, met die Here wat my krag gee’, by julle gedra en julle het dit bewys,” was haar woorde.

Die skool het die dag met 100 geel, swart en wit kolwyntjies asook 100 geel, swart en wit ballonne gevier, wat deur die oudmatrikulante in die lug losgelaat is terwyl hulle die skoollied vir oulaas gesing het, vergesel van voorspoedwense vir die toekoms deur die skoolhoof en onderwysers.

Heidre Malgas
heidre@mahareng.co.za