2019 is op sy rug

0
269

So kom nog ‘n jaar binnekort tot sy einde. Die wat beleggings het, sal weet dat dit ‘n senutergende jaar was, volatiliteit op aandelemarkte was erg. Plaaslik het die JSE Algehele Indeks sy verliese van 2018 teruggemaak. Vir die jaar tot dusver is die plaaslike beurs 9.38% op, teenoor die -8.53% van 2018 (sien ook die meegaande grafiek wat 2018 met 2019 vergelyk).

Die Rand het homself ook goed gedra, en alhoewel dit met tye volatiel vertoon het, het hy sy man goed gestaan teenoor ander geldeenhede. Jou markverwante belegging se 12-maande-staat sal dus tans baie beter lyk as wat dit ‘n jaar gelede gelyk het. Dit is die eerste keer in ‘n lang tyd wat jy weer bietjie beloon is vir die risiko wat jy geneem het, en natuurlik die geduld wat jy aan die dag gelê het.

2020 gaan ‘n nuwe jaar wees, met sy eie uitdagings. Al die ou kalante, soos Donald Trump, Brexit, spanning in die midde-ooste, ensomeer, gaan steeds daar wees. Volgende jaar is verkiesingstyd in die VSA, en ek dink dat Donald Trump se verkiesingsveldtog ‘n beduidende invloed op finansiële markte gaan hê, en dit kan dalk net positief vir ons wees.
Die VSA staar ‘n dreigende ressessie in die oë, en Donald Trump gaan alle hase uit sy hoed moet pluk in ‘n poging om dit af te weer, en sy verkiesingsveldtog te ondersteun. Natuurlik sal hy sy houding jeens China moet hersien, en meer tegemoetkomend moet wees. Kom ons wag en sien wat gaan gebeur…

Vir nou eers, kan ons gaan vakansie hou. Dankie dat ek weekliks met jou kon gesels het. Mag jy ‘n geseënde feestyd ervaar, en baie voorspoed in 2020. Reis veilig en kom uitgerus terug, dan gesels ons weer in 2020.

Horace Terry
horace@nassaux.com