Sanral is toegewyd daartoe om motoriste se reiservaring te vergemaklik

0
1137

Die Suid-Afrikaanse Padagentskap (Sanral) het sy versekering gegee dat motoriste die komende Paasnaweek met meer gerief en minder vertragings op die N1-snelweg weens padwerke tussen Gauteng en Kaapstad, sal kan ry. ‘n Sanral-bestuurder in die Vrystaat en KwaZulu-Natal, Ravi Ronny, sê van die maatreëls wat in plek is, sluit onder meer in dat padverbruikers met elektroniese skyfies (tags) nie meer by die Vaal-, Verkeerdevlei- en Brandfort-tolhek in die Vrystaat hoef te stop nie.

Voertuie sal outomaties by valhekke deurgelaat omdat outomatiese betaalstelsels reeds in plek is by dié tolhekke. Dit sluit die  Grasmere-tolhek in Gauteng in. Ronny sê Sanral weet hoe belangrik dit vir mense is om hul eindbestemmings veilig en vinnig te bereik, daarom sal voertuie die Paasnaweek nie by stop-en-ry-punte hoef te stop en vir meer as 20 minute te wag nie.

Hy sê dit is vir Sanral belangrik om die land se paaie in stand te hou, maar waar padwerke op die N1 geskied, sal die verkeer nie oor die Paastyd vertraag word nie. Hy sê padtekens om spoed te verminder (60km en 80km per uur) sal waar padwerke plaasvind, aangebring word.

Volgens hom behoort geen stop-en-ry-vertragings  op die N1-snelweg by Kroonstad self, tussen Kroonstad en Ventersburg asook by Winburg plaas te vind nie.

By Kroonstad word verbeterings aan die N1 gedoen en die sypaadjie opgegradeer, maar daar is reeds ‘n dubbelrybane beskikbaar. Die verbeterings tussen Kroonstad en Ventersburg raak nie die N1 self nie. Volgens hom word ‘n tweede nuwe pad op die oomblik gebou langs die N1. Hy sê skietwerke wat op die konstruksieperseel aan die N1 by Winburg gedoen word sal nie oor die Paastyd ‘n probleem wees nie.

Geringe konstruksie aan paaie vind ook in dele van die Karoo plaas. Ronny vra padverbruikers om padreëls na te kom en om hul spoed te verminder in gebiede waar tydelike padwerke plaasvind. Volgens hom is Sanral toegewyd daartoe om te voorkom dat voetgangers of verdwaalde diere toegang tot die snelwegnetwerk het, maar motoriste moet steeds hul spoed verminder – veral saans. – Christal-Lize Muller