Steyn wen MTB-wedren in naelbytstryd

0
2145
Die 4-jarige Lehan Oosthuizen het verlede Woensdag by die Africycle Tours Urban Attack-bergfietsry (MTB)-reeks in Bloemfontein toeskouers, beamptes en deelnemers gaande gehad toe hy een rondte van dié moeilike roete wat op die terrein van Grey-kollege beslis is, voltooi het. FOTO: RUFUS BOTHA

Jacques Steyn het verlede week die tweede van die gewilde Africycle Tours Urban Attack-bergfietsry (MTB)-reeks in Bloemfontein ‘n naelskraapse oorwinning in dié sewe-rondte-wedren behaal.

Die byeenkoms is op die skoolterrein van Grey-kollege beslis en die roete was beslis nie maklik nie. Deelnemers moes onder meer met skerp draaie en heelparty spoedwalle onderhandel.

Steyn, Rinus Maarsingh en die Aerocare Bloemfontein Courant-yster, Damean Oosthuizen, het deurgaans in mekaar se nek geblaas, maar met die aanbreek van die laaste rondte het Oosthuizen, wat beter bekend is vir sy skitterende nasionale prestasies op die baan en padfietsry, agter geraak.

Steyn en Maarsingh het uiteindelik saam op die wenstreep afgepyl en Steyn kon oorwinning met slegs een duisende van ‘n sekonde smaak deur ‘n tyd van 38:51,113 op die uitslagkaart in te vul. Maarsingh het 38:51,114 afgejaag en Oosthuizen moes met ‘n derde plek tyd van 39:21,600 tevrede wees.

Die eerste lid van die skoner geslag was Wilmerie Jacobs, wat 53:16,876 aangeteken het.
In die wedren oor vyf rondtes het Flip Viviers van meet af aan die voortou geneem en ‘n wentyd van 31:42,862 daargestel. Adolf Smith (32:02,681) en Anriko Fredericks (32:27,951) was tweede en derde en die eerste vrou, Jozanne Taljaard, het goed vertoon met ‘n tyd van 37:11,940.

Zaine de la Rey het nie veel moeite ondervind om die wedren oor drie rondtes te beklink nie en het ‘n haastige tyd van 20:24,482 los te jaag. Hy was meer as 30 sekondes voor die naaswenner, William Smith (20,54,828), terwyl Zibeth Hansen die eerste vrou oor die eindstreep was in 25:06,507.

Die groot ‘held’ van die byeenkoms was egter die 4-jarige Lehan Oosthuizen wat ook deelgeneem het en een rondte voltooi het. Dié knapie het met sy fietsie met ondersteuningswieletjies sy rondte tot groot vermaak van die toeskouers in 22:53,807 voltooi.

Lehan, wie se gesiggie van genot gestraal het, is die broer van Damean Oosthuizen.

– RUFUS BOTHA