Sterk polisieteenwoordigheid by UV-kampus 

0
2618
CR Swart-standbeeld is omgegooi op die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Bloemfontein-kampus.

Die polisie in Bloemfontein doen ‘n beroep op die publiek om kalm te bly te midde van die voortgesette betogings by die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Bloemfontein-kampus.

Polisiewoordvoerder, Wendy Nkabi, sê lede van die polisie se eenheid vir openbare orde is sedert gister ontplooi om betogings deur kontrakwerkers en ‘n groep studente te monitor. Volgens haar was polisiebeamptes vanoggend op die kampus teenwoordig na inligting ontvang is dat oproeriges op die kampus byeen is.

Sy sê ‘n groep mense het die CR Swart-standbeed aan die brand probeer gesteek, maar die polisie was vinnig op te reageer en het hulle gekeer. OFM-nuus het egter pas ‘n foto ontvang dat die standbeeld wel nou omgegooi is. Nkabi gee haar versekering dat die polisie die situasie buite en op die kampus deurgaans monitor.

Volgens haar is niemand sedert gisteraand in hegtenis geneem nadat ‘n groep betogers en rugbyondersteuners met mekaar slaags geraak het by ‘n Varsitybekerwedstryd op Shimlapark nie.

Betogers en koshuisstudente het later koppe gestamp en geboue is gevandaliseer.  – Christal-Lize Muller