19 Desember – Kolskoot

0
953

Goeiedag
“Ek moet julle manne sê ek is vuisvoos van al die sport in 2012. Ek kan nie wag om te gaan uitspan en saam met my familie te ontspan nie. Ek sê julle dit is nie maklik om in die Olimpiese jaar genoeg rus te kry nie.
“Dit is rugby, atletiek, swem, krieket, tennis, netbal, gholf en nog talle ander sportsoorte wat jou aandag dwarsdeur die jaar verg. Ek is pootuit en gaan Jan Tuisbly se karretjie ry,” kla Botterbul Bester daar uit die Jakarandastad.
“Ek gaan Krugerwildtuin toe met ’n trop Bonthuysies. Dit gaan ’n familiesaamtrek in die kleine wees. Groot en klein gaan natuurlik gereeld hul Westelike Provinsie-kleure daar tussen die wilde diere dra.
“Ons moet, want ek was byna tien jaar laas daar en toe kon ek dit nie daar in die Noorde gewaag het om die Disa-wapen of ’n streeptrui te dra nie, want toe het die Kêrriekoppie mos daar bo gestaan,” spog Bontie subtiel.
“Ja, dalk help dit om die renosterstropers gedurende die feestyd af te skrik. Die Blou Bul-ondersteuners kon dit nie met hul babablou of pienk truie en helms met horings regkry nie,” spot Sporie Bezuidenhout daar van Despatch se wêreld af.
Die meeste van ons bly vanjaar tuis, want die geldskoen druk. Oom Sjert is egter ook op pad na sy kinders in die Noorde. “Kerstyd is familietyd, maar dit gaan ons nie verhoed om krieket en van die ander sportsoorte dop te hou en natuurlik te braai nie.
“Buitendien geniet ek altyd om weer oor al die hoogtepunte van die jaar te lees en daarna te kyk,” verduidelik hy sy benadering.
Stywelip Carringington verduidelik Kersfees beteken net een ding en dit is familiesaamtek in KwaZulu-Natal. “Almal wat moontlik kan, kom. Ons gaan saam kerk toe, sing, kuier en ontspan. Ek moet egter erken ek sal reeds my oog op die Proteas en Black Caps van Nieu-Seeland op die krieketveld hou.”
Skielik stem al die ou makkers van my saam. Hulle wens almal ’n geseënde Christusfees en voorspoedige 2013 toe. Sport moet trustaan.
Groetnis