Blinde atleet vertoon beste in padwedloop

0
2760
Die blinde atleet, Danie Breitenbach (links), en sy gids, Marius Wessels, onlangs in aksie in 'n 800m-wedloop saam met atlete sonder liggaamlike gestremdhede. FOTO: RUFUS BOTHA

Die blinde atleet, Danie Breitenbach, wat Saterdag saam met sy gids, Marius Wessels, aangetree het vir die 10km-wedloop op die jaarlikse Kloppers/Adidas-padwedloopbyeenkoms, het heelparty atlete stom van verbasing gelaat.

Breitenbach (en Wessels), wat bekend is daarvoor dat hulle Suid-Afrika in baanatletiek vir atlete met liggaamlike gestremdhede verteenwoordig, het die bykans ondenkbare vermag toe hulle algeheel tiende oor die eindstreep is. En dít in ‘n bobaastyd van 36:50.

Die feit dat die Paralimpiese Spele in Augustus in Brasilië beslis word, het vir seker baie daarmee te doen dat Breitenbach dié tyd, wat bykans drie minute vinniger as sy vorige beste (39:33) is, losgehardloop het. Sy doelwit is om te kwalifiseer om Suid-Afrika in Brasilië te verteenwoordig in die 1500m in die T-11-kategorie vir volkome blinde atlete.

Buiten dat Breitenbach tiende geëindig het, het hy boonop meer as ‘n minuut vinniger gehardloop as die wenner van die afdeling vir mans 40 tot 44 jaar. Hy was ook vinniger as die wenner van al die ander ouderdomskategorieë vir mans, die junior mansafdeling uitgesluit. Geen atleet van die skoner geslag kon in die genoemde 10km nader as agt minute ná hom eindig nie.

Die 10km is gewen deur Boy Soke (32:23) en hy is gevolg deur sy spanmaat, Khothatso Mokone (32:50). Dié tye gee ook ‘n aanduiding van hoe goed Breitenbach vertoon het.

Die wenner in die afdeling vir vroue was Joan Viljoen (45:37).

In die halfmarathon (21,1 km)-wedloop het Pule Hlabahlaba die mansafdeling in ‘n stadige 1:11:59 beklink.

Dit is jammer dat daar nie tye in die halfmarathon vir vroue beskikbaar is nie. Atlete het klaarblyklik ‘n verkeerde roete ingeslaan en plekke is glo ná onderhandeling met atlete wat die korrekte roete gevolg het, toegeken.

Elmarie Goodchild is uiteindelik as algehele wenner (vroue) aangewys, en tereg ook so, want sy het voorgeloop toe sy weens geen roeteaanwyser op ‘n spesifieke plek ‘n verkeerde roete gevolg het.

Madelaine le Roux, wat die korrekte roete gevolg het, het die junior afdeling gewen in ‘n nie-amptelike tyd van 1:27:30, wat uitstekend is. Veral as in ag geneem word dat sy ‘n driekampspesialis is. Sy het verlede week die junior afdeling op die Vrystaat-driekampbyeenkoms gewen.

Die mansafdeling van die marathon (42,2 km) is deur die Lesotho-burger, Lebohang Motemekoane, in ‘n mooi binnelandse tyd van 2:28:11 gewen en die Bloemfonteiner, Paulina Njeya, het die afdeling vir vroue in ‘n goeie 3:12:40 gewen.

– RUFUS BOTHA