Wayde word geklop in sy eerste 2016-wedloop

0
6413
Wayde van Niekerk (links) en sy oefenmaat, Gideon Trotter, in aksie op Kovsies se koshuisbyeenkoms waar hulle, opgemaak soos narre, vir Karee deelgeneem het in die 100m-wedloop. FOTO: RUFUS BOTHA

Bloemfontein se wêreldkampioen in die 400m, Wayde van Niekerk, is Maandagaand in sy eerste wedloop van die jaar op tuisbodem en ten aanskoue van honderde van sy mede-Kovsiestudente geklop.

Van Niekerk het op die Kovsies se koshuisbyeenkoms op Pelliespark se grasbaan besluit om sy koshuis, Karee, te ondersteun en pret gehad saam met sy Karee-span- en -oefenmaat, Gideon Trotter, toe hulle met witgeverfde gesigte en groengekleurde hare aangetree het vir die 100m.

Die 100m is nie Van Niekerk se voorkeurnommer nie, terwyl Trotter alombekend is as een van die land se beste 100m-atlete. Inteendeel, sy beste tyd (10,19) maak van hom die 13de vinnigste 100m-atleet van alle tye in Suid-Afrika.

Van Niekerk, wat die vierde vinnigste (43,48) 400m-atleet van alle tye in die wêreld is, se naam verskyn nie onder die voorste 50 in die 100m op die Suid-Afrikaanse ranglys van beste vertonings nie – hy hardloop bykans nooit 100m-wedlope nie en Maandag se wedloop was bloot ‘n oefensessie (en pret).

Toe die skoot klap, was hierdie twee boesemvriende vir net meer as 10 sekondes in ‘n mini-oorlog betrokke en dit was ‘n kop-aan-kop geding tot by die eindstreep.

Tydhouers kon Trotter en Van Niekerk met slegs een honderdste van ‘n sekonde (handtye is geneem) skei, en hulle was altwee blitsig.

Trotter het gewen in 10,20 en Van Niekerk het 10,21 aangeteken.

Van Niekerk het toe besluit om ook die 400m aan te durf en goeie punte vir Karee in te samel. En, dit was hier waar jy duidelik kon sien hoekom Van Niekerk die wêreld se beste is in dié nommer is. Hy het van meet af aan gelyk of hy saam met die manne draf en toe dit lyk of Petr Havenga (Armentum) hom opdraende oor die laaste 100m wou gee, het Van Niekerk na eerste rat verwissel en met die grootste gemak in 48,94 geseëvier.

Havenga, wat ook ‘n voormalige Suid-Afrikaanse skolekampioen in die afdeling vir seuns 19 jaar was, was tweede in 49,49. Bennie Prinsloo het vir sy derde plek ook goeie punte vir Karee ingeoes deur derde, ook in sub 50 (49,89), te eindig.

Interessant is dat Van Niekerk se jonger broer en eerstejaar by Kovsies, Craig van Niekerk (Karee), vierde geëindig het in dieselfde wedloop in ‘n mooi tyd van 50,30.

Onder die vroue was Maryke Brits (Wag-‘n-Bietjie) die groot uitblinker. Brits, wat onder meer Suid-Afrika in 2010 by die eerste Olimpiese Spele vir jeugatlete verteenwoordig het, het die 100m in ‘n haastige 12,00 gewen en haar verspringoorwinning was self iets om oor huis toe te skryf. Sy het met ‘n puik 5,87 meter losgetrek om haar naaste teenstander met meer as ‘n meter te troef.

Karee is as die spankompetisie vir mans gewen en Wag-‘n-Bietjie het hulle nagedoen in die vrouekompetisie.

– RUFUS BOTHA