Annandale en Olivier wen MTB-wedrenne maklik

0
3083
Francois Annandale het Saterdag nie sy gelyke gehad in die 45km-wedren vir mans by Martie du Plessis-skool se jaarlikse bergfietsbyeenkoms nie. FOTO: RUFUS BOTHA

Francois Annandale en die uiters begaafde Chanté Olivier het Saterdag by Martie du Plessis-skool se jaarlikse bergfietsbyeenkoms nie nodig gehad om in ‘n truspieëltjie te loer waar hulle naaste teenstanders hulle bevind nie, want hulle was baie ver agter dié twee in hul onderskeie wedrenne.

Annandale, wat onlangs een van ‘n uitverkore groepie Vrystaatse fietsryers was wat in Spanje ‘n uitputtende, dog leersame oefenkamp bygewoon het en sodoende kers opgesteek het oor onder meer fietsrytegnieke en oefenmetodes, het Saterdag nie tyd gehad vir kinderspeletjies nie.

Hy het die 45km-wedren met die grootste gemak gewen en is gevolg deur Pieter Baird en Charl Coetzee.

Olivier, wat deesdae vir Aerocare Bloemfontein Courant jaag, was Saterdag weer eens in ‘n klas van haar eie en het verspot maklik geseëvier in die afdeling vir vroue in die 30km-wedren. Olivier het onlangs by die eerste van vyf byeenkomste van die Suid-Afrikaanse bergfietsreeks (XCO-beker) die sub-jeugafdeling vir meisies met meer as ses minute gewen.

Marc Fourie, wat verlede jaar die groot skuif gemaak het na die MTB-elite-afdeling vir mans en tans slegs op sy fietsry konsentreer, het die 60km-wedren gewen. Hy en sy oefenmaat, Franco Pelser, was sonder om mekaar eindstreep toe te jaag, bykans gelyk, maar Fourie is as wenner aangewys. Martin van der Westhuizen was derde.

Daniël Grabbe het die manswedren (15km) gewen en Sandra Smith, ‘n voormalige Suid-Afrikaanse middelafstandatleet, het die vroue oor dieselfde afstand (15km) uitgestof. Ronel Bouwer was eerste in die 45km vir vroue terwyl Flip Viviers die wedren vir mans oor 30 km beklink het.

 -RUFUS BOTHA