15-jarige gholfspeler in die Vrystaat-span

0
934
Bloemfontein se 15-jarige gholfspeler, Xander Thompson. FOTO: GOLFRSA

Vir meeste gholfspelers is dié sport een wat ’n leeftyd neem om te bemeester. Vir ander is dit ’n sport wat nooit bemeester kan word nie, en dan is daar die 15-jarige Bloemfonteiner, Xander Thompson, vir wie die sport makliker is as vir ander.

Sy loopbaan in gholf het begin terwyl hy saam met sy pa, Alec, gespeel het. “My pa is ’n goeie gholfspeler en ek het altyd op die gholfkarretjie gery wanneer hy gespeel het,” het Thompson vertel.Sy pa was ook ’n Vrystaat-gholfspeler.

Xander Thompson speel sedert 2019 gholf, toe hy slegs 10 jaar oud was. Hy het vroeër vanjaar die jongste speler geword om die Klubkampioenskap by Schoemanpark te wen.

Hy is intussen gekies om, as deel van die Vrystaatmansspan, in September by die Stellenbosch Gholfklub in die Inter-Provinsiale Toernooi (IPT) te gaan meeding.

Thompson voel geëerd en gemotiveerd om deel van die span te wees, wat meestal uit volwasse mans bestaan. “Dit voel of die harde werk begin vrugte afwerp, so nou wil ek nog harder werk.”

Om teen ouer spelers mee te ding skrik hom ook nie af nie. Thompson veduidelik dat hy uitsien “om teen beter spelers te kan meeding en by hulle te leer.” Hy sien ook uit na die toer na Stellenbosch.

Die toer is ’n kans vir hom om homself te bewys en hy sien uit om die ouer, meer ervare spelers aan te vat. “Ek weet hulle sal probeer om met my kop te smokkel omdat ek ’n junior is. So, ek is nog meer gemotiveer om te wen, net om ’n punt te bewys.”

Mianda Thompson, Xander se ma, vertel dat sy uiters trots is op Xander en wat hy tot dusver bereik het. “Ek dink nie ek besef altyd hoe goed hy regtig is nie,” het sy vertel.

Thompson vertel ook van haar seun se professionele uitkyk op die sport, en sê: “Hy vertel my nooit van sy oorwinnings nie, ek hoor net wat hy beter kon gedoen het en waar hy kon verbeter.”

Xander se doelwit is om eendag ’n professionele gholfspeler te wees en goeie mededinging vir al sy helde te bied. “

Ek dank God dat Hy my die talent en vermoë gegee het om te doen wat ek die meeste liefhet,” het hy gesê.

Warren Hawkins

warren@mahareng.co.za