AfriForum Brandweer het gister, presies 100 dae sedert sy brandweerwa in Bloemfontein ingetrek het, ’n gemiddelde reaksietyd gehandhaaf van net meer as ses minute op die 30 noodsituasies waarop in dié tydperk gereageer is.
Volgens AfriForum beteken die sukses van dié privaatbrandweerdiens dat die spoedige reaksie op die 13 huisbrande, 13 veldbrande, drie voertuigbrande en een reddingsoperasie wat in die afgelope meer as drie maande in Bloemfontein hanteer is, dat skade noemenswaardig beperk is.
Volgens Tarien Cooks, rampbestuurspesialis van AfriForum, speel minute ’n kritieke rol in die beskerming van menselewens en bates, “want elke minuut kan die verskil tussen lewe en dood beteken,” verduidelik sy.
“Navorsing toon dat ’n duidelike korrelasie bestaan tussen brandweerdienste se reaksietye en die omvang van brandskade. Dit is juis daarom vir AfriForum Brandweer noodsaaklik om voort te bou op die hoë reaksietyd-standaard wat reeds binne die eerste 100 dae van dié privaat diens se bestaan gehandhaaf kon word,” benadruk Cooks.
AfriForum Brandweer se standaard toon, volgens haar, dat dié brandweerdiens se reaksietyd goed vergelyk met dié wat in eerstewêreldlande aangemeld word en dit selfs in baie gevalle oortref. Hoewel verskeie aspekte in berekening geneem moet word om die sukses van ’n brandweerdiens te bepaal, is reaksietye ’n kritieke element.
“Vergelykbare statistiek toon dat brandweerdienste in Engeland in 2022/23 ’n gemiddelde reaksietyd van net meer as nege minute op primêre brande (oftewel die mees ernstige tipe brande) gehandhaaf het. Voorts beveel die National Fire Protection Association (NFPA), ’n internasionale organisasie wat standaarde vir brandbestryding stel, ’n reaksietyd van 560 sekondes – oftewel 9 minute en 20 sekondes – aan vir brandbestrydingsagentskappe,” sê Cooks.
Sy sê verder dit blyk dat reaksietye van munisipale brandweerdienste intussen op eie bodem ’n ernstige probleem is.
“ ’n Witskrif oor Suid-Afrika se brandweerdiens wat in Augustus 2020 gepubliseer is, wys op die gebrek aan tydige reaksie van munisipale nooddienste, wat brandweerdienste insluit. Probleme wat ook geïdentifiseer is, sluit onder meer in onvoldoende aanspreeklikheid by sekere munisipaliteite, tekort aan doeltreffende bestuur en swak instandhouding van toerusting.”
Cooks verduidelik navorsing wat reeds in 2010 in Nieu-Seeland gedoen is, toon dat die koste van strukturele skade weens brande met nagenoeg NZ$4 000 per minuut van reaksietyd toeneem.
“Dié syfers spreek vanself dat elke minuut nie net in terme van menselewens kritiek is nie, maar ook om die skade te beperk. In dié opsig het AfriForum Brandweer reeds in sy eerste 100 dae uitsonderlike beskerming aan Bloemfonteiners gebied. Ons sien uit om op hierdie beskerming van Bloemfontein en sy mense voort te bou,” sluit Cooks af.
Besoek www.afriforumbrandweer.co.za vir meer inligting oor AfriForum se eie privaatbrandweerdiens.
Compiled by Justine Fortuin