Wiskunde-fundi neem deel aan Internasionale Wiskunde-kompetisie

0
1149
Die lede van die Vrystaat- en Noord-Kaapspan wat in Augustus in Chiangmai, Thailand, aan die Thailand- Internasionale Wiskundekompetisie gaan deelneem, is voor, van links: Hermina Oosthuizen, onderleier (Universiteit van die Vrystaat), Jeanine Louw (Jim Fouché Hoërskool), Liané Kleynhans (Eunice Hoërskool) en dr. Elsie Schoombie, leier (EMS Weet-en-Wis Skool). Agter is Handré Venter (Sentraal Hoërskool) en Joe Schimper (Grey Sekondêr).

Vier hoërskoolleerders gaan die Vrystaat en die Noord-Kaap van 14 tot 20 Augustus op die Thailand Internasionale Wiskunde-kompetisie (Thailand International Mathematics Contest or TIMC) in Chiangmai verteenwoordig as deel van die Suid-Afrikaanse span. Dr. Elsie Schoombie (leier, verbonde aan die EMS Weet-en-Wis Skool) en Hermina Oosthuizen (onderleier, verbonde aan die Departement Wiskunde en Toegepaste Wiskunde aan die Universiteit van die Vrystaat), vergesel hulle.
Die span is saamgestel uit die beste leerders wat deur skole oor die hele Vrystaat en Noord-Kaap ingeskryf is. Leerders is gekies ná vier uitdunrondes en die finale span is: Liané Kleynhans (graad 9, Eunice Hoërskool), Jeanine Louw (graad 9, Jim Fouché Hoërskool), Joe Schimper (graad 10, Grey Sekondêr) en Handré Venter (graad 10, Sentraal Hoërskool). Twee reserwes, Albert Dreyer (Sentraal Hoërskool), en Phillip Pretorius (Grey Sekondêr ), het ook aan intensiewe opleiding deelgeneem.
Nege leerders het ook onder die top-15 geëindig: Driaan-Lou Kemp (Jim Fouché), Gabbi Christians (Kimberley Girls’ High), Marc van der Nest (St Andrew); Itacia Govender (Ficksburg HS), Tsholofelo Mogotsi (CBC St Patrick, Kimberley), Ethan Travers (St Andrew), Baraka Mutambala (Eunice HS), Wikus Vorster (Jim Fouché HS) en Heinrich de Lange (Jim Fouché HS).
Die leerders het intensiewe opleiding ondergaan om hulle vir die internasionale kompetisie voor te berei in die tweede kwartaal en ook in die Junie-vakansie. Me. Hermina Oosthuizen en me. Marietjie Wink het dit behartig. Soné du Pisanie het as assistent met die opleiding gehelp.
Die span het geldelike ondersteuning gekry van die Departement Wiskunde en Toegepaste Wiskunde en die Fakulteit Natuurwetenskappe en Landbou van die Universiteit van die Vrystaat.