Willemien Smuts (76) gereed vir nóg ‘n Two Oceans ultra-marathon

0
979
Die 76-jarige oumagrootjie, Willemien Smuts (links) gaan aanstaande jaar haar 23-ste Two Oceans ultramarathon (56km) in Kaapstad aandurf. Sy gaan die wedloop saam met haar dogter, Wilma Bosman (39) hardloop. Dit sal Wilma se debuut Two Oceans ultra-marathon wees. Smuts staan hier saam met Bosman met een van die 22 Two Oceans ultra-marathon medaljes wat Smuts reeds verower het. FOTO: RIAN BOSMAN

Die uitstekende langafstandatleet van die Rosestad, die 76-jarige Willemien Smuts sê sy is slaggereed om aanstaande jaar wéér die moordende Two Ocenas ultra-marathon (56km) in Kaapstad aan te durf.

Smuts, wat reeds 22 Two Oceans ultra-marathons op haar kerfstok het, het haar laaste ultra-wedloop by die Two Oceans-byeenkoms in 2015 kafgedraf en halt geroep na sy met ‘n kniebesering gesukkel het. Haar liefde vir die Two Oceans byeenkoms het haar egter steeds jaarliks Kaap toe geneem en sy het in 2016 en vanjaar die bergwedloop en halfmarathon- (21,1km) padwedloop, wat onderskeidelik op die Vrydag en Saterdag van die byeenkoms beslis word, deelgeneem.

Toe kom die uitdaging… haar dogter, Wilma Bosman, wat 16 Desember 40-jaar word en eers in September vanjaar begin draf het, vra toe vir ma-Willemien om net nog een keer die Two Oceans ultra-marathon aan te durf, saam met haar.

Smuts, wat vir geen uitdaging terugdeins nie het nie gehuiwer nie en so gesê so gedaan. Ma Willemien en dogter Wilma gaan 31 Maart die Two Oceans ultra-marathon saam hardloop. En, Smuts vier ‘n dag voor die wedloop (30 Maart) haar 77-ste verjaardag.

Courant het met Bosman gesels en wou weet of daar ‘n spesifieke tyd is waarin hulle die wedloop wil voltooi: “Ons gaan nie tye jaag nie. Daarvoor het ek te onlangs eers begin draf. Ek sal baie tevrede wees om slegs ‘n medalje te kry en 6:30 sal my baie tevrede stel. My ma se ondervinding is onmeetbaar en ek weet sy sal my al die pad kan help en motiveer om dit te bereik”.

Smuts en Bosman gaan saam ‘n marathon (42,2km) in Johannesburg aanpak (28 Januarie) om sodoende te kwalifiseer vir die genoemde Two Oceans wedloop.

Smuts se hardloopgeskiedenis spreek boekdele. Sy het eers begin hardloop op die rype ouderdom van 50-jaar. Daarna was daar geen keer aan hierdie ma van vyf en ouma van 12 kleinkinders nie. Sy is boonop oumagrootjie van een agterkleinkind.

Smuts het van krag tot krag gegaan in baanatletiek, veldwedlope, bergwedlope en padwedlope – jy noem ‘n langafstandwedloop en sy is daar.

Smuts het aan Courant gesê: “Dit is ‘n droom wat waar geword het dat ek saam met Wilma die Two Oceans kan hardloop. Dit bly my gunsteling wedloop van al die honderde wedlope wat ek reeds gehardloop het”,

Sy het bygevoeg: “Dit is heerlik as al die mense jou aanspoor en vir jou skree langs die pad, maar dit is Liewe Jesus wat jou hand al die pad vashou”.

Een van Smuts se verskeie ouderdomskategorie onderskeidings is dat sy voorheen die afdeling vir vroue (60-jaar plus) in die einste Two Oceans ultra-marathon in ‘n rekordtyd gewen het. – RUFUS BOTHA