Wilde dier steeds gesoek by Virginia

0
721

‘n Wilde dier, vermoedelik ‘n jagluiperd of ‘n rooibostierkat, wat vanoggend die eerste keer in Harmonyweg op Virginia in die Vrystaat gesien is, word steeds gesoek. Die bestuurder van ‘n plaaslike sekuriteitsmaatskappy, Monica Fouché, het vanoggend aan OFM-nuus gesê van haar werknemers wat die gebied deurnag gepatrolleer het, het omstreeks 05:00 ‘n jagluiperd of ‘n luiperd naby die BP-vulstasie gesien. Hulle het die dier agtervolg tot in bosse naby ‘n brug.

Sy sê die sekuriteitsbeamptes was oortuig daarvan dat die dier wat hulle gesien het een van die groot katte is.  Fouché sê die plaaslike rehabilitasiesentrum vir wilde diere, Hart, het kort daarna ‘n soektog begin.

Volgens haar het hulle die wilde dier se spoor gevolg, maar sonder sukses. Sy sê die spore lyk beslis soos dié van ‘n jagluiperd of ‘n rooibostierkat. Die soektog is egter tydelik gestaak tot ‘n mikroligtevliegtuig vanmiddag gebruik gaan word op die dier vanuit die lug te soek.

Fouché vra die publiek om die gebied, by die mynhope buite die dorp te vermy.  – Christal-Lize Muller