Wes-Kaap klop VS op SA netbaltoernooi

0
383
Maryka Holtzhausen - REG CALDECOTT

Die Wes-Kaap-netbalspan was een te veel vir die gevreesde Vrystaatspan op Spar se nasionale toernooi wat Saterdag in Durban ten einde geloop het.

Die Wes-Kapenaars het van meet af aan gewys dat hulle ‘n moeilike teenstander gaan wees en die Vrystaat in die eindstryd gerieflik met 50-35 geklop.

Daar was met tye lig in die tonnel vir die Vrystaat, wat ná die eerste twee kwarte (halftyd) slegs drie doele agter was. Die Wes-Kaap het egter in die tweede helfte die krane oopgedraai terwyl die Vrystaat nie ‘n teenvoeter gehad het vir die puik aanvallende spel van die Wes-Kapenaars nie.

Selfs die twee Vrystaatse verdedigers (en susters), Karla en Tanya Mostert, se puik spel kon nie altyd die aanvalle van Jaumbuaije Zauana fnuik nie. Laasgenoemde is goed ondersteun deur Vanes-Mari du Toit en Mari-Lena Joubert. Du Toit, wat in die tweede helfte in ‘n taktiese skuif as doelwagter diens gedoen het, was boonop ook ‘n angel in die vlees vir die Vrystaat se aanvalpogings.

Die Vrystaat se deurwinterde afrigter, Burta de Kock, het ná die wedstryd gesê die uitslag was teleurstellend, maar dat dit nooit maklik is teen ‘n span met die ondervinding van die Wes-Kapenaars nie.

Sy het egter bygevoeg (netball-sa.co.za) dat sy trots is op haar spelers: “Hulle gaan voordeel trek uit die ondervinding in die eindronde en meeste van my spelers sal vir die Varsity Cup in aksie wees. Ons sal dit wat ons hier (Durban) geleer het, gebruik in ons voorbereiding vir die Varsity Cup.”

‘n Pluimpie moet egter gaan aan die skitterende speler van die Vrystaat, Karla Mostert. Sy is aangewys as die speler van die toernooi.

Suid-Afrikaanse netbal is egter ‘n slag toegedien wat die nasionale span met ‘n tameletjie laat toe die Vrystaat- en Proteas-kaptein, Maryke Holtzhausen, met ‘n besering van die veld gedra moes word in die wedstryd teen die verdedigende kampioen, Noordwes.

Dié besering gaan haar moontlik op die kantlyn hou wanneer Suid-Afrika later die maand sy eweknieë, Australië, Nieu Seeland en Engeland, in ‘n Quad-reeks aanvat. – RUFUS BOTHA