Wenke oor wat om te doen op ‘n ongelukstoneel

0
308

 

ER24 doen opnuut ‘n beroep op Suid-Afrikaanse motoriste om dié komende feestyd veilig op die land se paaie te wees. Verkeer op paaie gaan nou toeneem met sommige skole in die binneland wat vandag vir die Desember-skoolvakansie sluit. ER24 se woordvoerder, Chitra Bodasing Harduth, sê dit is noodsaaklik om voorbereid te wees op ‘n ongelukstoneel, veral as iemand in ‘n botsing beseer is. Sy sê dit is belangrik dat ‘n ongelukstoneel te alle tye beveilig word. Die motorbestuurder moet die voertuig tot stilstand bring, indien moontlik. Betrokkenes moet nie die toneel verlaat nie. As iemand in ‘n botsing nie ernstig beseer is nie en die voertuig is rybaar, moet die voertuig ‘n ent van die ongelukstoneel langs die pad getrek word om verdere ongelukke te voorkom. Sy sê betrokkenes moet belangrike besonderhede uitruil. Dit sluit name, voertuigregistrasienommers en lisensie-inligting in.

Bodasing Harduth maan betrokkenes op ‘n ongelukstoneel om kalm te bly. Dit is belangrik dat hulle kophou en vasstel wat die situasie is en hoe dit op die bes moontlike wyse hanteer gaan word om nog ‘n ongeluk te voorkom. Die betrokke motors se noodligte moet aangeskakel word, indien moontlik. ‘n Nooddriehoek moet ook sigbaar wees om aankomende verkeer op die pad te waarsku. As daar ander mense by die ongeluk betrokke was, stel vas of hulle veilig is. Stel vas of al die insittendes in jou voertuig daar is en beserings opgedoen het. Dit is ook belangrik wat die toestand van die instittendes in ander voertuie wat betrokke was is.

Sy sê indien mense beserings opgedoen het moet nooddienste ontbied word. Dit is daarom belangrik dat mense belangrike noodnommers altyd byderhand het. Besoek OFM-nuus se webwerf vir meer ER24-wenke om op ‘n ongelukstoneel te volg.

Wanneer daar wel beseerdes is wat in ‘n motor vasgekeer is, of die betrokke motor het aan die brand geslaan of iemand lê in die pad, gaan help en bring hulle na veiligheid. Sy sê mense moet dit egter probeer vermy om beseerdes te beweeg. Hulle moet eerder in dieselfde posisie bly, behalwe wanneer hul lewens verder in gevaar is.

Wanneer beseerde mense noodhulp nodig het, wees voorbereid.

‘n Noodhulpkissie moet altyd in ‘n motor gehou word. Wanneer iemand bewusteloos is, maak die beseerde mens se mond oop en stel vas of daar iets is wat ‘n obstruksie veroorsaak. Indien wel, verwyder dit. Stel vas of die beseerde mens asem haal. Indien wel, vermy dit om die beseerde mense te skuif, behalwe in ‘n lewensgevaarlike situasie soos ‘n brand.  Monitor die beseerde mens se toestand.  As ‘n pasient nie asem haal nie pas mond-tot-mond asemhaling toe indien jy weet hoe om dit te doen.

As ‘n beseerde bloei, gebruik gaas wat in die noodhulpkissie beskikbaar is. Plaas dit op ‘n wond. ‘n Handdoek, hemp, en ‘n  kombers kan gebruik word. Plaas druk op die wond tot paramedici opdaag. As daar ‘n brand is, gebruik ‘n brandblusser wat altyd in ‘n voertuig gehou moet word. Gebruik ook handskoene wanneer met bloed in aanraking gekom word. Kinders moet ook veilig gehou word op ‘n ongelukstoneel.

ER24 se noodnommer is 084-124. – Christal-Lize Muller