Weldoener verbly kinderharte met seevakansie

0
288
De Villiers Wille (middel) 'n weldoener van Bloemfontein en twee seuns (16 en 18) wat die uitstappie na Margate baie geniet het. FOTO: MARICELLE BOTHA

Dit is die seisoen van omgee. ‘n Tyd wanneer weldoeners uitreik na minderbevoorregtes, ‘n helpende hand verleen en harte verbly.
Dít is presies wat ‘n jong Bloemfonteinse sakeman in die gastehuisbedryf gedoen het toe hy onlangs ‘n groep kinders van die Engo Kinder-en-jeugsorgsentrum (Ons Kinderhuis) met ‘n uitstappie na die KwaZulu-Natalse Suidkus bederf het.
De Villiers Wille, ‘n 36-jarige vrygesel, wou ‘n verskil maak en het besluit om aan seuns en meisies van dié sentrum ‘n geleentheid te bied om by die see te baljaar. Vir baie van die kinders was dit hul eerste keer by die see. Wille het familielede, Boet en Grace Fourie, wat ook die eienaars van die Margate-sportskool is, genader. Dié oud-Vrystaatse egpaar het geensins geskroom om te help nie. Die Fouries het gratis verblyf met etes aan ‘n groep van 32 kinders verskaf.
Fikkie van Dyk, hoof van die sentrum, sê hulle het besluit om kinders wat hard gewerk het om van dié sentrum se jaarlikse jaareindkonsert ‘n sukses te maak, te beloon met die weeklange uitstappie. Die groep kinders het in die Oktober-vakansie na Margate vertrek. Van Dyk sê baie van die kinders wat die uitstappie meegemaak het, het ook geen heenkome oor die vakansietyd gehad nie. Hulle is nie uitgeplaas na hul ouers, familielede of vakansie-ouers nie. ‘n Brandstofskenking het die rit na Margate en terug moontlik gemaak.
Volgens Van Dyk is Wille se inisiatief met ope arms verwelkom. Daar is nie altyd ‘n geldelike behoefte by die kinders nie, maar eerder ‘n behoefte aan persoonlike aandag. Mense se betrokkenheid is kosbaar. “Ons kinders het nie iemand spesiaal wat deel is van hul lewens nie.” Hulle soek iemand om hulle emosioneel te ondersteun. “As personeellede moet ons dissipline toepas. Ons vertolk die rol van ouers, maar baie keer het die kinders ‘n mentor (ouer broer of sussie) nodig.
Wille sê dit is juis waarom hy betrokke geraak het. Hy het ‘n paar jaar gelede deur ‘n vriendin, wat werksaam was by die sentrum, begin om na die kinders uit te reik. “Ek’t gesien daar is ‘n behoefte aan ‘n tipe pa-figuur.” Hy het vriendskapsbande met van die kinders, klein en groot, begin smee. Op gepaste tye met toestemming van die sentrum-bestuur het hy by die kinders gaan kuier. Wille het sy staffie-hond saamgeneem om met die kinders te speel of soms opgedaag met iets soets en saam met hulle bal geskop.
‘n Beskeie Wille het ook al etes voorberei en op spesiale geleenthede soos Valentynsdag aan kinders by dié sentrum voorgesit.
Sy “projek” (soos hy daarna verwys) het aan hom begin gegroei. Tyd saam met die kinders is vir hom kosbaar. “Om sommer op ‘n Saterdag vinnig daar te stop en saam te kuier.” Of om vooraf met bestuur te reël en op ‘n Saterdag ‘n paar seuns te verras met visstokke en ‘n uitstappie na die viswaters, vertel hy. Wille is nou al ‘n bekende by die sentrum en wanneer hy daar opdaag, straal talle gesigte.
Twee seuns, onderskeidelik 16 en 18, was deel van die groep kinders wat in Margate gaan kuier het. Albei die seuns, wie se name nie genoem mag word nie, sê dit was ‘n onvergeetlike ervaring gewees. Hulle was nog nooit vantevore op ‘n seevakansie nie. Een van die seuns vertel die kinders het behoorlik gehardloop asof hulle aan ‘n marathon deelneem om in die water te kom.
Van Dyk vertel daar is altesaam 47 kinders wat hierdie jaar nie in Desember uitgeplaas kan word nie. Hulle word besig gehou met verskeie programme en gaan later ‘n draai maak op Prieska in die Noord-Kaap waar nog ‘n weldoener dit jaarliks moontlik maak vir hulle om Kersfees by ‘n vakansie-oord te kan deurbring.
Die tyd van die jaar dink mense aan geskenke en wat om vir hul geliefdes te koop, maar by die sentrum word daar reeds gefokus op die basiese noodsaaklikhede soos skoolklere, skooltasse en skryfbehoeftes.
Mense wat betrokke wil raak, kan Ons Kinderhuis by 051-4333-281 bel. – Christal-lize Muller 
christal-lize@centralmediagroup.co.za