Weermagman herleef ervarings deur kuns

0
1155
Die kunstenaar, Warren Gibson, het reeds meer as twee dekades se diens in Suid-Afrika en die Midde-Ooste verrig.

Die vermoë om te skets en die lewe op ‘n uitsonderlike manier vas te vang, is vir Warren Gibson van Langenhovenpark in Bloemfontein tweede natuur. Hierdie geharde militêre man het al enigiets – van soldate in aksie in die Eerste Wêreldoorlog, sportmotors en Springbok-rugbyspelers tot die wonder van die Groot Vyf – in sy werke vasgevang.
Dié beeldende kunstenaar van formaat sê hy het reeds op ‘n vroeë ouderdom in kuns begin belangstel. “Ek het aanvanklik met olieverf begin. Olieverf plak jy mos aan. Ek hou egter van die fyner besonderhede in my tekeninge. Dit moet perfek wees. Dit is maar ‘n familieding, ek dink ek het die kunstigheid van my ma geërf,” vertel Gibson.
Om tussen 14 en 16 uur aan ‘n skets te werk wanneer hy met verlof is, is niks ongewoons vir Gibson, oorspronklik van Gauteng, nie. “As ek Maandag begin, dan is ek Donderdag klaar. Jy kan egter nie permanent teken nie, dit gaan alles oor jou sielkundige ingestelheid. Ek bedoel, jy moet wíl teken.”
Hy voeg by dat kuns ná 26 jaar in die militêre diens vir hom ‘n unieke soort rustigheid bring.

Een van Warren Gibson se vele militêre sketse, van die amerikaanse Navy Seals.
Een van Warren Gibson se vele militêre sketse, van die amerikaanse Navy Seals.

Hy het aanvanklik diensplig gedoen voordat hy by die Suid-Afrikaanse Weermag se Valskermbataljon in Bloemfontein ingeval het. In 2005 het hy hom as ‘n beskermingswerker by private maatskappye van Amerika in Irak aangesluit. Dis hier waar Gibson die stukkend van die lewe ervaar het in lande waar die verskynsel van oorlog, gewelddadige konflik, terreuraanvalle en aggressie daagliks voorkom.
“Ons het baie ontploffings en ambushes ervaar. As daar ‘n ontploffing is, het jy darem beskerming. Voertuie word verwoes en ek het al baie gesien… mense wat doodgaan en so aan. Afghanistan was tien keer erger gewees. Jy lewe met die letsels, met of sonder sielkundige hulp. Dit sal altyd in jou agterkop wees.”
Sy potlode was egter nie te ver weg om al die beelde vas te vang nie. Dit is waarom hy tans die fynere besonderhede in sy militêre sketse so goed kan vasvang.

'n A2-skets van 'n Suid-Afrikaanse valskermsoldaat met sy Honoris Crux-medalje.
‘n A2-skets van ‘n Suid-Afrikaanse valskermsoldaat
met sy Honoris Crux-medalje.

“Ek hou daarvan om in my kamer te sit, dit gaan vir my oor die rustigheid en ontspanning wat die kunste my bied. Om self te kon ervaar wat oorlog behels, help ontsettend baie om die realistiese beeld van oorlogelemente vas te vang. Ek gaan byvoorbeeld nie ‘n ou teken van wie die rang onderstebo is nie,” sê Gibson.
Hy doen ook ontsettend baie navorsing oor die Amerikaanse, Britse en Suid-Afrikaanse oorloë om al die elemente op ‘n feitelike wyse vas te vang. “As ‘n persoon iets van my wil hê, gaan hy ‘n goeie produk kry,” sê Gibson.
Beeldende militêre kunstenaars, soos die Amerikaners Peter Bapcock en James Dietch, is vir Gibson ‘n groot inspirasie.
Hy wil egter nou self groot naam maak as hy terugkeer na ‘iewers’ in Afrika, waarheen hy weer gepos is, want kuns is ín hom. – Mark Steenbok 
mark@centralmediagroup.co.za