Wayde hardloop eerste wedloop by Kovsies

0
536
Wayde van Niekerk in aksie tydens die Suid-Afrikaanse Ope-kampioenskap in Bloemfontein in 2016. Dié atleet het later in die jaar die mans-400m-wêreldrekord verpletter tydens die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro, Brasilië. FOTO: MORGAN PIEK

Bloemfontein en die Kovsies se Olimpiese Spele-kampioen en wêreldrekordhouer in die 400m, Wayde van Niekerk, se wedloopbeplanning is weliswaar nog nié in die fynste detail uitgewerk nie, maar daar is reeds byeenkomste waaraan hy beslis gaan deelneem.

Só het sy befaamde afrigter, Ans Botha, dié week in ‘n onderhoud aan Courant gesê: “Ons is seker van heelparty byeenkomste waaraan Wayde gaan deelneem, maar ons sal die res binne die volgende week of twee bevestig nadat daar itemlyste beskikbaar is van al die byeenkomste dié jaar.”

Die goeie nuus is dat Van Niekerk, soos verlede jaar, aan sy eerste byeenkoms vir 2017 in Bloemfontein gaan deelneem. Hy sal op 20 Februarie op Pelliespark op die Kovsiekampus aan die Kovsies se tussenkoshuisbyeenkoms deelneem. Dit sal egter as oefening dien en hy gaan heelwaarskynlik slegs vir die 100m en aflos aantree.

Dit is interessant om daarop te let dat Van Niekerk op die einste byeenkoms in 2016, ook sy eerste wedloop van die jaar, geklop is. Hy het meegeding teen sy oefenmaat en een van die beste junior 100m-atlete van alle tye in Suid-Afrika, Gideon Trotter, wat net-net voor hom oor die eindstreep genael het.

Goeie nuus vir Bloemfonteinse atletiekliefhebbers is dat daar tans nie twyfel bestaan nie dat Van Niekerk op 11 en 12 Maart aan die Vrystaat-senior kampioenskap op die Mangaung-atletiekstadion in die Rosestad in aksie sal wees.

Wat ander byeenkomste in Suid-Afrika betref, sê Botha dat die Suid-Afrikaanse senior kampioenskap (20 tot 22 April) in Stellenbosch op die agenda is. Sy voeg by: “Daarna is dit terug in Bloemfontein vir harde oefening en studies vir Wayde. Wat die buiteland aan betref, is die plan om op 2 Junie aan die Adidas-byeenkoms in Boston (VSA) deel te neem.” Daar word waarskynlik verwag dat Van Niekerk in Boston moet deelneem omdat hy een van die grootste sport-ambassadeurs vir Adidas in die wêreld is.

Volgens Botha beplan hulle om dan na Kingston, Jamaika, te vlieg om op 10 Junie aan die gewilde Racers-byeenkoms deel te neem.

Courant wou weet of hulle gedurende dié tyd weer die geleentheid gaan benut om vir ‘n paar dae saam met die wêreld se vinnigste atleet, Usain Bolt, te oefen? “Daar is ‘n moontlikheid, maar daar is nog heelwat reëlings om te tref voor ek dit kan bevestig,” het Botha gesê.

Met bogenoemde byeenkomste as deel van Botha en Van Niekerk se beplanning, het Courant Botha gepols of daar gedurende die jaar gepoog gaan word om die wêreldrekord in die seldsame 300m agter die Bloemfonteiner se naam te skryf: “Ek kan nie sê dat daar ‘n spesifieke tyd en/of plek is waar ons vir die 300m-rekord mik nie, maar die plan sal altyd wees om jaar ná jaar te poog om vinniger te hardloop.”

Die voormalige wêreldrekordhouer in die 400m, Michael Johnson (VSA), beskik oor die vinnigste 300m-tyd in die wêreld (30,85) en word gevolg deur Usain Bolt (Jamaika, 30,97). Van Niekerk is ‘n kortkop agter hulle in die derde beste tyd ooit in die wêreld (31,03).

Botha maak egter geen geheim van wat hul hoofdoelwit vir 2017 is nie: “Die grootste mikpunt hierdie jaar is vir Wayde om sy wêreldtitel (400m) in Augustus suksesvol in Londen te verdedig.” – RUFUS BOTHA

info@bloemfonteincourant.co.za