Wayde blitsig en Louzanne vinniger as wêreldrekord

0
1443
Louzanne Coetzee, Bloemfontein se blinde middel- en langafstandster het die naweek tydens die Vrystaat (VS)- senior atletiekkampioenskap in Bloemfontein sowat 35 sekondes vinniger as haar eie wêreldrekord in haar gestremdheidskategorie (T-11) in die 5000m gehardloop. Haar gids vir dié wedloop was oudergewoonte Khotatso Mokone (regs). FOTO: RUFUS BOTHA

Bloemfontein se wêreldrekordhouer in die 400m, Wayde van Niekerk, het vroeg in die seisoen reeds die 100m en 200m op die Vrystaat (VS)- senior atletiekkampioenskap in Bloemfontein verlede Vrydag en Saterdag, afgeblits – vir seker ‘n waarskuwing aan die beste naellopers in SA en die wêreld. Van Niekerk was in die 100m-eindronde blitsig uit sy blokke en het deurgaans heelwat beter vertoon as verlede Woensdag toe op die ASA Speed Series-byeenkoms deur Tlotliso Leotlela (Tuks) in die einste 100m in Bloemfontein getroef is.

Van Niekerk, wat Saterdag baie meer ontspanne as teen Leotlela genael het, het die elektroniese tydapparaat (wat dié keer gewerk het) op ‘n kookwater 10,12 laat staan. Dié apparaat het Woensdag besluit om te staak in die 100m-wedloop waarin van Niekerk en Leotlela betrokke was.

Hy is Saterdag gevolg deur sy oefenmaat, Hendrik Maartens (10,49), en Hlapo Rantebane, wat dieselfde tyd as Maartens aangeteken het en die tweede plek met laasgenoemde gedeel het.

Van Niekerk het in die 200m dieselfde twee manne gewen toe hy weer eens goed weggespring en 20,45 met gemak afgelê het.

Maartens was dié keer tweede (21,15) en Rantebane derde in 21,27.
Die volkome blinde atleet, Louzanne Coetzee (T-11 gestremdheidskategorie), het op haar beurt die toeskouers gaande gehad toe sy in die 5000m saam met haar gids, Khothatso Mokone, atlete sonder fisieke gestremdhede die stryd aangesê het. Dít veral toe dit halfpad deur die wedloop na ‘n sterk moontlikheid begin lyk het dat sy vinniger as haar eie wêreldrekord in haar gestremdheidskategorie kan hardloop.

Coetzee het uiteindelik ‘n skitterende tyd van 18:42,29 losgehardloop. Haar tyd was sowat 35 sekondes vinniger as haar eie wêreldrekord van 19:17,60, wat sy verlede jaar opgestel het.

Dié tyd sal egter nie deur die IPC (International Paralympic Committee) as wêreldrekord erken word nie, omrede die VS-kampioenskap nie ‘n goedgekeurde byeenkoms van die IPC vir rekorddoeleindes was nie. Atlete met gestremdhede is goedgunstiglik deur AVS (Atletiek Vrystaat) toegelaat om deel te neem om hulle kans te gee om vlymskerp te wees in hul opbou na die SA kampioenskap vir atlete met fisieke gestremdhede (1 April, Port Elizabeth).
Coetzee was algeheel tweede in Saterdag se wedloop en slegs die SA senior- veldwedloopkampioen, Kesa Molotsane, kon haar klop. Molotsane het in ‘n skitterende binnelandse tyd van 16:32,23 geseëvier. Dié tyd voorspel ‘n goeie vertoning wanneer Molotsane eersdaags die land gaan verteenwoordig op die wêreld-veldwedloopkampioenskap wat in Uganda beslis word.

Sy het Saterdag ook die VS-titel in die 1500m vir senior vroue in ‘n goeie 4:27,39 gewen.

Ander senior atlete wat tevrede kan voel met hulle oorwinnings die naweek, is:

Mans: Hendrik Maartens (400m, 47,18), Treasure Derison (800m en 1500m, 1:50,07 en 3:46,14), Mthembi Chauque (10 000m-stap, 44:31,82) en Chris Harmse (hamergooi, 68.69).

Vroue: Maryke Brits, 200m (24,54), Anneri Moolman (400m en 400m-hekkies, 54.86 en 58,27) en Tshepang Sello (800m, 2:09,88).