Waterkrisis in Mangaung duur voort ondanks reën

0
349
The Bloemhoek Dam in Kroonstad was at 1 % and nearly completely depleted at some stage in 2016. File photo: Moeketsi Mogotsi.

Goeie reën in Bloemfontein en omliggende dele die afgelope naweek bring nuwe hoop vir inwoners. Veral tuinliefhebbers, wat swaar toegekyk het hoe hul tuine agteruitgaan, is dankbaar. Die werklikheid is egter streng waterbeperkings geld steeds ondanks die reën.

DA-raadslid in Mangaung en waterkenner, Rossouw Botes, sê opgaardamme wat water aan die stad voorsien, is byna leeg. Die Welbedachtdam is volgens die Departement van Waterwese en Sanitasie se nuutste syfers wel 109% vol, maar is 95% toegeslik. Die Knellpoortdam staan op 36,1% en die Rustfonteindam op 28%. Botes sê slegs 18% van die water uit die Rustfonteindam kan onttrek word, sodat die oorblywende watervlak nie onder die minimum van 10% daal nie. So ook kan daar slegs 21% van die water uit die Knellpoortdam onttrek word sodat ‘n minimum van 15% oorbly. Om meer water te kan onttrek, moet ‘n spesiale permit uitgereik word. Die Groothoekdam staan op 9,9%.
Botes sê die Mangaung-raad het verlede Donderdag op ‘n vergadering die metro se waterbeperkings na Vlak 3 verhoog. Dit beteken dat die waterbesparing nou van 20% na 30% verhoog is. Vlak 3-beperkings bepaal ook dat die metro die tariefstruktuur vir waterverbruik aansienlik met 44% verhoog het. In die waterverbruik-kategorie van 0 – 6 kiloliter betaal verbruikers R9.95 per kiloliter. In die kategorie 7 – 15 kiloliter, betaal verbruikers R22.97 per kiloliter; van 16 – 30 kiloliter kos dit R24,47 per kiloliter; van 31 – 60 kiloliter kos dit R27,42; en meer as 60 kiloliter kos R31.08 per kiloliter, BTW uitgesluit.

Rossouw hoop dié beperkings sal verbruikers ontmoedig om onnodig water te gebruik, want die stad se somerverbruik in spitstye is tot soveel as 200 megaliter per dag. Dit is gelykstaande aan 4 000 swembaddens met ‘n gemiddelde volume van 50 000 liter.
Die boodskap is duidelik – alles moet nou in die stryd gewerp word om water te bespaar.

Die metro het reeds maatreëls begin toepas. Nuwe toerusting is aangeskaf om watertoevoer by verspreidingspunte tussen 22:00 en 06:00 te beheer. Laer waterdruk sal veral in hoogliggende gebiede ervaar word.
Altesaam 23 reservoirs is reeds geïdentifiseer waar die watervlak met twee meter verlaag gaan word. Dit sal die inloop verminder, wat die waterdrukking sal verlaag en sodoende waterverlies weens gebarste pype sal voorkom. Inwoners moet diegene wat water vermors by die metro se beskermingsdienste by 051-406-6452 aanmeld. Waterlekkasies moet by 051-412-4000 aangemeld word.
Die Mangaung-metro het teen druktyd nog nie op Bloemfontein Courant se navraag oor die waterkrisis gereageer nie. – Christal-lize Muller 
christal-lize@centralmediagroup.co.za