Wat is in ‘n naam?

0
392

Dit moet ‘n groot eer wees as ‘n dorp of ‘n straat na jou genoem word, het ek as kind geglo. Dan kan jou naam vir altyd voortleef.
En dink net hoe lekker sal dit wees om in jou eie straat te bly. Ek kon my voorstel dat Harry Smith vir hom ‘n huis koop in die straat én dorp wat sy naam dra. En hoe selfvoldaan hy elke dag sou gaan pos uithaal, breëbors oor daardie driekuns op die koeverte: Sir Harry Smith, Harry Smithstraat 1, Harrismith.
Deesdae wil ‘n mens dalk maar eerder nie hê dat iets na jou genoem word nie. Niks hou vir altyd nie, en gister se helde is vandag se skurke. Die geskiedenis, so lui daardie gesegde wat soms aan Churchill toegedig word, word geskryf (en herskryf) deur die oorwinnaars.
Daar is natuurlik ander maniere as ‘n dorp- of straatnaam om aan te toon waar jy jou bevind. GPS-koördinate met die druk van ‘n selfoonknoppie is lankal ou nuus. Ek vind dit net erg onpersoonlik. Kodes en syfers kan nooit name soos Tietiesbaai, Putsonderwater of Hotazel vervang nie.
Maar nou is daar ook nuwer produkte beskikbaar. Het jy al ooit van “what3words” gehoor? ‘n Vriend vertel my onlangs van hierdie innoverende “geo-koderingstelsel” wat die hele aardbol in altesaam 57 triljoen vierkantige blokke van 3 meter by 3 meter opgedeel het. Aan elkeen van hierdie vierkante, selfs in die middel van die see, is daar met behulp van spesiale rekenaarprogramme en algoritmes drie woorde toegeken wat slegs vir daardie blokkie geld. Elke vierkant het dus ‘n unieke drie-woord naam. (Géén vloekwoorde nie!)
‘n Mens kan ‘n selfoonapplikasie aflaai wat vir jou aandui wat die naam van die vierkant is waarop jy jou bevind. Op “what3words” se webwerf kan jy enige adres intik en die drie woorde kry wat daardie plek beskryf. My huis hier in Bloemfontein is by “rally.thigh.sobbed”. New York se beroemde Statue of Liberty staan op ‘n blok met die naam “planet.inches.most”. En Nkandla se naam is “trenchcoat.puddles.bubble”.
Pleksoek kan ‘n lekker speletjie word.

ALBÉ GROBBELAAR