Warm weerstoestande in sentraal-Suid-Afrika verwag

0
120
Warm weerstoestande word vandeesweek oor die grootste deel van die sentrale binneland voorspel.

‘n Weervoorspeller in die Bloemfonteinse weerkantoor, Michael Nethavani, sê daar is geen vooruitsigte op reën vir die grootste deel van die Noord-Kaap, Vrystaat en Noordwes nie. Nethavani sê op plekke in Noord-Kaap word maksimum dagtemperature bo 30 grade Celsius voorspel, terwyl die kwik teen die naweek in die Vrystaat en Noordwes tot in die lae dertigs kan styg.

Maksimum dagtemperature in die grootste deel van die Vrystaat sal na verwagting onder 30 grade Celsius vir die res van die week wees. Hy sê die hoogste temperature gaan in die noord-westelike deel van dié provinsie (30 grade Celsius) voorkom.

Temperature in die res van die provinsie gaan wissel tussen 27 grade Celsius en 28 grade Celsius. Baie warm toestande kan eers teen die naweek verwag word, met maksimum dagtemperature van 30 grade Celsius en hoër in die Vrystaat en Noordwes.

Warm toestande kom ook in die Noord-Kaap voor. In die noordelike deel van dié provinsie gaan temperature vandag bo 30 grade Celsius wees met temperature in Kimberley wat gaan wissel tussen 32 grade Celsius en 33 grade Celsius.

Hy sê teen môre (Woensdag) gaan temperature in die suidelike deel van die provinsie (Prieska) ook bo 30 grade Celsius wees. Teen Donderdag gaan warmer toestande voorkom, met Upington (35 grade Celsius), en Postmasburg en Douglas (34 grade Celsius).

Hy sê daar is môre en Vrydag ‘n 30%-kans op enkele buie in die oostelike deel van die Vrystaat. Verspreide buie word vir die verre oostelike deel van die provinsie (Van Reenenspas) voorspel.

Daar is Saterdag en Sondag ‘n 30%-kans op verspreide buie in die Kroonstad- en Bethlehem-gebiede in die Vrystaat. Dele van Potchefstroom, Klerksdorp, Ventersdorp en Lichtenburg kan ook die naweek, veral smiddae, ligte buie verwag.  – Christal-Lize Muller