VS-polisiewerknemer slegs vyf dae in 30 jaar afwesig

0
150
Jolunde Ball het Dinsdag die Most Loyal Employee toekenning by ‘n geleentheid in Ficksburg ontvang. Foto: verskaf

Toewyding en lojaliteit kan nie gekoop word of in geldwaarde bereken word nie.

Dit kan nie meer waar wees vir ‘n Vrystaatse vrou wat onlangs ‘n gesogte toekenning ontvang vir haar jare lange diens aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) nie.

Die 51-jarige Jolunde Ball het Dinsdag die Most Loyal Employee toekenning by ‘n geleentheid in Ficksburg ontvang vir haar toewyding. In hierdie 30 jaar het Ball, wat as ‘n administratiewe klerk by die Ladybrand-polisiekantoor werk, slegs vyf werksdae gemis. Oor hierdie prestasie is Ball uiters trots.

“Ek is baie trots op dit. Jy werk hard vir baie jare en eweskielik kom so iets na jou kant toe en jy voel trots op dit. Jy is dankbaar dat mense jou harde werk raaksien.”

♦   LEES:  Groot geeste stel godsdiensboek bekend

Op ‘n vraag wat haar geheim is, sê Ball trots dat harde werk en passie die sleutel is om jou werk elke dag aan te pak.

“Daar is nie regtig ‘n geheim daaraan om eerlik te wees nie. Ek het in ‘n era grootgeword wat jy nie sommer skoolsiek was nie. Ek het elke dag werk toe gekom. Ek het soms siekverlof geneem, maar dit was toe net daardie vyf dae gewees.”

Ball het in die jaar 1986 by die Ladybrand-polisiestasie begin werk en nog nie weer teruggekyk nie.

♦   LEES:  Beweerde renosterstropers buite Bloemfontein aangekeer

Op ‘n vraag of die vuurtjie nog so hoog brand soos die eerste keer toe sy by die kantoor ingestap het, sê sy laggend dat sy nog nege wonderlike werksjare voor haar het.

“Ek dink soos wat ‘n mens ouer word, doen jy dinge nie meer so vlot soos altyd nie maar jy kom nog elke dag werk toe en doen dinge met ‘n oop hart,” sê Ball.

– Mark Steenbok/Courant-nuus