VS- en NK-leerders presteer in Internasionale Wiskundekompetisie

0
1091
Die lede van die Vrystaat/Noord-Kaapspan is in Chiang Mai, Thailand, op die lughawe welkom geheet. Hulle het aan die Thailand- Internasionale Wiskundekompetisie deelgeneem. Elke spanlid het 'n opgestopte olifantjie gekry wat deur 'n laerskoolleerder van Thailand gemaak is as geskenke aan internasionale deelnemers. Die Thai-personeellede wat as gashere opgetree het en wat die Suid-Afrikaanse span vir die duur van die kompetisie oral begelei het, is hier saam op die foto. Die Suid-Afrikaners het almal groen hemde aan en is van links, agter: dr. Elsie Schoombie, leier (EMS Weet-en-Wis Skool), Jeanine Louw (Hoërskool Jim Fouché), Joe Schimper (Grey Sekondêr), Liané Kleynhans (Eunice Hoërskool), Handré Venter (Hoërskool Sentraal) en Hermina Oosthuizen, onderleier (Universiteit van die Vrystaat); en voor: Monica Kleynhans en dr. Engela le Roux, meegaande lede van die Suid-Afrikaanse span.

Vier hoërskoolleerders uit die Vrystaat en Noord-Kaap was onlangs deel van die Suid-Afrikaanse span wat in Chiang Mai aan die Thailand- Internasionale Wiskundekompetisie deelgeneem het.
Hulle het baie goed presteer en die Vrystaat/Noord-Kaap se naam in die vreemde hoog gehou. Twee van die vier spanlede het meriete-toekennings ontvang vir die individuele kompetisie. Hulle is Liané Kleynhans (graad 9, Eunice Hoërskool) en Joe Schimper (graad 10, Grey Sekondêr). Hulle en die res van die span, Handré Venter (graad 10, Hoërskool Sentraal) en Jeanine Louw (graad 9, Hoërskool Jim Fouché), het ook aan ‘n spankompetisie deelgeneem en die beste van al die Suid-Afrikaanse spanne presteer. Hulle is beloon met ‘n trofee as derdeplekwenners in hul groep.
Die span was vergesel van dr. Elsie Schoombie (leier, verbonde aan die EMS Weet-en-Wis Skool) en Hermina Oosthuizen (onderleier, verbonde aan die Departement Wiskunde en Toegepaste Wiskunde aan die Universiteit van die Vrystaat).
Deelname aan die kompetisie is vergemaklik deur die geldelike ondersteuning wat die span gekry het van die Departement Wiskunde en Toegepaste Wiskunde en die Fakulteit Natuurwetenskappe en Landbou van die Universiteit van die Vrystaat (UV). Pragtige rugsakke is ook deur die Departement Rekeningkunde van die UV geskenk.
Die Vrystaatse leerders staan nie terug vir die res van die land as dit kom by wiskunde-olimpiades nie. ‘n Span graad 7-leerders wat in Julie die Vrystaat/Noord-Kaap in Hongkong op die Primary World Mathematics Contest verteenwoordig het, het ook die beste van die Suid-Afrikaanse spanne gevaar. Hierdie leerders was Jason Schimper (Grey Primêr), Charné Nel (Willem Postma), Rianette Kemp (Laerskool Fichardtpark) en Christene Rossouw (Universitas Primêr).
Hulle is vergesel deur dr. Anelize van Biljon (leier, verbonde aan die Departement Rekenaarwetenskap en Informatika aan die UV) en An-Mari Myburgh (onderleier, verbonde aan Departement Wiskunde en Toegepaste Wiskunde, UV). Hulle het ook die beste van al die Suid-Afrikaanse spanne in die spankompetisie gevaar.