Vrystaatse Wetgewer in rou gedompel

0
1073
Vrystaatse LUR van Finansies en waarnemende premier, Elzabe Rockman. FOTO: SABRINA DEAN
Die name van die Speaker van die Vrystaatse Wetgewer se twee kleinseuns, wat op Oujaarsdag verdrink het, word weerhou uit respek teenoor hul naasbestaandes.

Dit is volgens die LUR vir Finansies en die waarnemende premier, Elzabe Rockman, nadat Mamiki Qabathe se kleinkinders, onderskeidelik 6 en 4 jaar oud, in hul ouma se swembad by haar huis op Virginia verdrink het.

Rockman beskryf die voorval as ‘n tragiese ongeluk. Sy het gister ‘n afvaardiging gelei wat die familie op Virginia besoek het. Rockman sê dit is nie nou die tyd om vinger te wys of om die betrokkenes te verwyt nie. Die familie moet eerder ondersteun word ná hul groot verlies.

Sy sê niks gaan die twee seuns terugbring nie. Daar is geen punt daarin om iemand vir die kinders se dood te blameer nie. “Ons moet die familie nou ondersteun. Dit is ‘n emosionele tyd vir hulle.”

‘n Begrafnisdiens vir dié twee seuns vind Vrydag om 08:30 vanuit die Meloding Metodiste-kerk plaas.

Intussen beskryf Rockman die voormalige speaker van die Vrystaatse Wetgewer, Ouma Tsopo, wat Sondagoggend in ‘n hospitaal in Welkom oorlede is, as ‘n toegewyde en passievolle leier. Rockman sê die oorsaak van die 64-jarige Tsopo, ‘n boorling van Theunissen in die Vrystaat, se dood is onbekend. Na wat verneem word was sy ‘n diabeet en het verwante komplikasies ingetree.

Former Free State Education and Health MEC, Ouma Tsopo has died. Image: Facebook.
Ouma Tsopo.

Rockman sê baie mense het sedert 1994 in verskeie hoedanighede saam met Tsopo gewerk. Sy het geen taak as té groot of klein beskou nie. “Ons ervaar ‘n intense verlies met haar heengaan.”

Tsopo het van 1994 tot 2014 in die Vrystaatse Wetgewer as onder meer LUR vir gesondheid, onderwys en maatskaplike ontwikkeling gedien. – Christal-Lize Muller