Vrystaatse Departement van Gesondheid ervaar nog ‘n krisis

0
483

Die Vrystaatse Departement van Gesondheid moes ‘n nuwe krisis in die gesig staar toe sy elektroniese pasiëntregistrasie- en rekeningstelsel ineengestort het. Dit volg te midde van verskeie vedoemende bevindinge oor dienslewering deur dié departement, wat al vir meer as ‘n jaar onder administrasie is.
Die portefeuljekomitee vir Openbare Rekeninge en Finansies in die Vrystaatse Wetgewer het dié situasie as ‘n ramp verklaar. In ‘n verslag oor die stand van provinsiale departemente en hul werksaamhede het die komitee gesê die departement moet nou so gou moontlik probeer vasstel hoeveel geld hulle sal moet afskryf weens die ramp. Die departement moet ook ‘n rampbestuursplan optrek wat in die toekoms ingestel kan word indien soortelyke gebeure voorkom. Al hierdie inligting moet in ‘n verslag saamgevat word en binne drie maande in die Wetgewer ter tafel gelê word.
Die ineenstorting van die elektroniese stelsel het gemaak dat die begrote inkomstedoelwitte nie net vir die departement nie, maar ook vir die provinsie afwaarts aangepas moet word. Die nuutste krisis volg nadat die ouditeur-generaal (OG) gevind het dat die Vrystaatse Departement van Gesondheid die swakste gevaar het in ‘n nasionale oudit. Die departement is in ‘n finansiële krisis gedompel en is onderaan die lys van gesonde geldsake, in vergelyking met ander provinsies. Die OG se verslag kyk onder meer na die geldsake van gesondheidsdepartemente, die instandhouding en aankoop van mediese toerusting en die beskikbaarheid van medikasie. Die verslag het bevind dat dié provinsiale departement een van die vier hoogste onreëlmatige besteders is. Die presiese bedrag kon egter nog nie in die Vrystaat vasgestel word nie omdat moontlike voorvalle nog nie na behore ondersoek is nie. Hierby het dié departement ook die derde hoogste ongematigde uitgawes in die land geregistreer. Ouditeur-generaal, Kimi Makwetu, sê hoewel al die provinsies se gesondheidsdepartemente finansiële probleme ondervind, wek die Vrystaat die meeste kommer. Oorbesteding, uitstaande skuld en swak invordering dra daartoe by dat die departement moontlik nie sy diensleweringsdoelwitte sal kan haal nie. Dit terwyl die Openbaredienstekommissie die departement ses maande gegee het om dringend aandag te gee aan verskeie probleme wat tydens ter plaatse inspeksies by hospitale en klinieke gevind is. ‘n Tekort aan mediese personeel en ‘n agterstand in die instandhouding van mediese toerusting en geboue is gevind. Een van die mees benarde situasies was by die Dr JS Moroka Hospitaal in Thaba Nchu. Hier moet pasiënte vir ure in lang rye sit en wag om gehelp te word, en die dak van die hospitaal lek. ODK-kommissaris, Henk Boshoff, sê werk aan die hospitaal het begin en hulle gaan in Januarie volgende jaar ‘n opvolgbesoek aan die hospitaal bring. – Cathy Dlodlo 
cathy@centralmediagroup.co.za