Vroue staan saam om jong moeders te help

0
166
Gwenyth Ellis en Sue Killner van die Click Club saam met Lepae se Elza Swart en Sanet Paulsen van Pelonomi-hospitaal.

Anita Roddick, stigter van The Body Shop, het gesê: “As jy dink jy is te klein om ‘n impak te maak, probeer bed toe gaan saam met ‘n muskiet.”
Dit is presies hoe die Lepae: Doekesak-projek in 2014 ontstaan het. ‘n Groep van vier vriendinne het Pelonomi-hospitaal se Premature Trauma-eenheid vir Tieners besoek en was geraak deur hoe kwesbaar sommige van die jong moeders daar by hul babas gesit het.
Elza Swart, een van die vroue, vertel hoe die moeders soms van ver met ambulanse na die hospitaal gebring word as hulle onverwags in kraam gaan. “Dit is hartverskeurend om te sien hoe die moeders letterlik net met die klere aan hul lyf langs die broeikaste sit. Die nood hier is so groot dat daar nie eens genoeg mussies vir die babatjies is nie, wat beteken sodra een dit nie meer nodig het nie, dit gewas word en weer vir ‘n volgende gebruik word. Aanvanklik het ons besluit om mussies vir die babatjies te brei. Later het ons verskeie brei-groepe reg oor die stad genader wat toe ook by die projek betrokke geraak het. Vandag is daar meer as 40 vroue van oor die stad wat op ‘n gereelde basis mussies vir die babas brei,” vertel Swart.
Lepae beteken letterlik “little blanket”. Tydens ‘n onlangse besoek aan die plaaslike Click Club was lede van die groep so geraak deur Swart se vertelling oor die 60 tot 120 moeders wat in die eenheid by hul babas waak, dat hulle onderneem het om te help brei en om produkte te help insamel vir die mammas van die babas.

Die inhoud van die Lepae: Doekesak-projek.
Die inhoud van die Lepae: Doekesak-projek.

Een van die lede, Sue Killner, het ook haar suster in Australië gekontak om van die behoefte te vertel en Judith het besluit om ‘n enorme finansiële bydrae tot die projek te maak. Hierdie befondsing het Lapae daartoe in staat gestel het om ‘n Doekesak-projek van stapel te stuur in samewerking met lede van die gemeenskap.
Verlede week het die dames 50 doekesakke ter waarde van R700 elk aan die eenheid geskenk. Die doekesakke self word weer op hul beurt deur twee groepe vroue as deel van ‘n werkskeppingsprojek gemaak. Dié sakke sal aan die jong moeders gegee word wanneer hulle die hospitaal verlaat. Dit sal hulle voorsien van die mees basiese benodigdhede vir die baba en die moeder. Doeke, babaprodukte en sanitêre produkte is ingesluit, asook kleertjies vir die baba.
“Die beplanning is om ‘n totaal van 200 sakke binne die volgende jaar beskikbaar te stel. Die sak sal die jong ma in staat stel om te begin met die versorging van die baba. Daar is grotendeels van private donasies gebruik gemaak om die sakke te pak, maar ook van die bydraes van skoolprojekte en bydraes van breigroepe en kerkgroepe,” sê Swart.
Die verspreiding van die sakke word deur die maatskaplike afdeling van die hospitaal hanteer. Enige persoon wat by hierdie projek betrokke wil raak, kan Swart by 072-460-3328 kontak. – Maricelle Botha
maricelle@centralmediagroup.co.za