Vrou stokvelgeld kwyt ná gewapende rooftog

0
388

Vyf gewapende rowers het ‘n vrou van Kutloanong, Odendaalsrus, van duisende rande se stokvelgeld beroof. Polisiewoordvoerder, Stephen Thakeng, sê ‘n 45-jarige vrou het gister kort ná middernag wakker geword toe sy geluide in haar huis gehoor het. Onbekende mans het daarna by haar slaapkamerdeur gestaan. Hulle het vuurwapens op haar gerig en geld geëis.

Sy moes R9 200 stokvelgeld, wat sy by haar in die huis gehad het, aan hulle gee. Die booswigte het ook met skoene, ‘n selfoon en ‘n DVD-speler op die vlug geslaan. Thakeng waarsku mense, insluitend diegene wat aan stokvelklubs behoort, om nie groot bedrae geld by hulle te hou nie.

Hy sê lede van dié klubs moet geld, wat hulle deur die jaar in ‘n bankrekening deponeer, eerder in die betrokke bankrekening hou en na individuele bankrekeninge oorplaas. Mense wat kontantaankope doen, moet eerder hul bankkaarte gebruik, want misdadigers hou hulle dop en sal hulle beroof.

Thakeng vra enigiemand met inligting oor die Odendaalsrus-voorval om hul naaste polisiekantoor te bel. – Christal-Lize Muller