Vloedwaarskuwing vir dele in sentrale binneland

0
884

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n vloedwaarskuwing vir ‘n groot deel van sentraal-Suid-Afrika vir vandag uitgereik. ‘n Weervoorspeller van die Bloemfonteinse weerkantoor, Tumi Phatudi, sê wydverspreide reënbuie gaan vandag in ‘n groot deel van die oostelike Noord-Kaap en in die westelike en sentraal-Vrystaat asook in die westelike deel van Noordwes voorkom.

Daar is vandag ‘n 80%-kans op reën vir die grootste deel van die Vrystaat, met ‘n 60%-kans in die verre noordoostelike deel en suidwestelike deel van die Vrystaat. In Noordwes is daar ‘n 80%-kans op reën in die sentrale deel en ‘n 60%-kans in die ooswestelike deel van dié provinsie. In die Noord-Kaap se verre oostelike deel is daar ‘n 60%-kans op reën, sê sy.

Reën begin teen môre vanuit die weste opklaar met slegs enkele buite wat in die noordoostelike deel van die Vrystaat en die oostelike deel van Noordwes kan voorkom. Teen Sondag is daar ‘n 30%-kans op reën in die Oos-Vrystaat. Reën word ook in die noordoostelike deel van Noordwes voorspel.

Nóg reën word volgende week oor die hele Noord-Kaap, Vrystaat en Noordwes voorspel. Vogtige lug gaan teen Maandag vanuit Namibië en Angola deur die sentrale deel van die land beweeg.

Intussen juig boere in droogtegeteisterde dele van die Vrystaat oor milde reën wat vandeesweek groot verligting gebring het. Voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se streekkomitee 13, wat Boshoff, Hertzogville en Dealesville insluit, Willie Weich, sê daar is groot dankbaarheid vir die bykans 90mm reën wat al vandeesweek in dié gebied geval het. Weich sê met die sagte reën kan die veld weer herstel ná bloedige hitte en min reën vir die grootste deel van verlede jaar.

Hy sê saaiboere in die distrik het kort voor Kersfees windskade op hul landerye gehad. Talle van dié boere kon ná ‘n welkome bui reën op Kersdag en nóg reën drie dae daarna, hul mielies oorplant. Met vandeesweek se reën is die landerye nat, maar daar is nog tyd vir boere om sonneblom te plant.

“Die ouens se landerye lyk goed.” – Christal-Lize Muller