VIDEO: Vlieënier stel debuutalbum bekend

0
161
Morné Postma

Ná 4 000 ure in die lug, het vlieënier Morné Postma sy vliegure ingeruil vir die vrystelling van sy debuutalbum.
Postma het voltyds vir agt jaar as kommersiële vlieënier en later graad 2-multi-enjin-vlieginstrukteur gevlieg en deeltyds musiek gemaak.
Nadat hy al dié vliegure op sy kerfstok kon plaas, het hy na Montagu in die Wes-Kaap verhuis om ‘n familieplaas saam met sy vrou te bestuur en sy passie vir musiek, én sy debuutalbum, ‘n realiteit te maak.
Postma en die musikant en liedjieskrywer, Wouter van de Venter, het einde 2015 die liedjies begin skryf en kort voor lank is sy debuutalbum Bloutrein gebore.
Postma se passie vir musiek het op agtjarige ouderdom begin toe hy sy eerste kitaar gekry het en homself leer speel het. Ná skool het hy vir ‘n BA-graad in musiek by die Universiteit van Pretoria ingeskryf, waar hy gefokus het op musiekonderwys. Hy het die kennis wat hy daar opgedoen het, gebruik om musieklesse vir tieners aan te bied en sodoende sakgeld te verdien om deeltyds sy passie vir lugvaart uit te leef.
In 2007 het hy as ‘n kommersiële vlieënier gekwalifiseer en in 2009 as ‘n graad 2-multi-enjin-vlieginstrukteur.
Op ‘n dag, tydens ‘n vlug van Lanseria-lughawe na Kaapstad, het sy musiekheld, Valiant Swart, langs hom in die vliegtuig kom sit en van daar af was die koeël deur die kerk. Postma het onmiddellik werk daarvan gemaak om in sy vrye tyd soveel moontlik optredes te doen.
Die oorspronklike liedjies op Bloutrein is deur Van de Venter en Postma self geskryf. Hy het die bekende liedjies, “Rooiwyn & Candlelight” van Gian Groen, en “Klaradyn” van Christoph Kotze, ook opgeneem.
Die album is by Fine Tune Studio in Langebaan aan die Weskus opgeneem en is verwerk deur Van de Venter en Chereé Strydom.
Die musiekvideo van die titelsnit, “Bloutrein”, is ook pas vrygestel.Untitled-1