Vinkel en koljander, die een is nié soos die ander

0
669
Jou spaar-behoefte moet jou lei na watter produk om te gebruik.

Ons het die laaste tyd ‘n bietjie gesels oor spaarprodukte, meer spesifiek dat spaarprodukte nie identies is nie. Jy moet gevolglik eers behoorlik vasstel wat jou spaarbehoeftes is voordat jy besluit op die produk wat jy gaan gebruik.
Die mees algemene spaarprodukte/-instrumente daarbuite is uittree-annuïteite, uitkeerpolisse, effektetrusts en deesdae ook die belastingvrye beleggings. Watter een is nou die beste manier van spaar? Weer eens, is daar nie ‘n reg of verkeerd nie; jou spaarbehoefte sal jou lei na watter produk om te gebruik. Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde.
Indien jy wil spaar om oor drie jaar ‘n motor te koop of om die einde van die jaar met vakansie te gaan, sal jy eerder ‘n effektetrustfonds gebruik. Effektetrusts is goedkoop en op kort kennisgewing beskikbaar. Jy kan geld byvoeg en onttrek soos jy wil. ‘n Uitkeerpolis gaan nie werk nie, aangesien die geld ontoeganklik is in die eerste vyf jaar.
‘n Uittree-annuïteit sal nie werk nie, aangesien ‘n uittree-annuïteit se geld net gedeeltelik (een derde) beskikbaar word vanaf ouderdom 55. ‘n Belastingvrye belegging kán werk vir dié doel, maar dit sal nie wys wees om belastingvrye beleggings vir korttermyn-spaarbehoeftes aan te wend nie, aangesien jy belastingvrye opbrengste verloor wat jy nie gaan kan terugkry nie. Indien jy goeie langtermynopbrengste wil genereer waarmee jy jou aftreevoorsiening wil aanvul, sal ‘n uittree-annuïteit weer jou beste opsie wees. Uittree-annuïteite genereer belastingvrye opbrengste en die premie is belastingaftrekbaar, binne perke. Jy sal dus ekstra waarde kan toevoeg indien jy dit wat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) jou aan die einde van die belastingjaar ten opsigte van jou uittree-annuïteit teruggee, weer terugbetaal in jou uittree-annuïteit. Geen ander produk sal vir jou beter waarde as ‘n uittree-annuïteit bied indien dit by spaar vir aftrede kom nie.
Belastingvrye beleggings gaan naby aan ‘n uittree-annuïteit kom vir die doel van spaar vir aftrede, maar jy word beperk tot ‘n bydrae van R30 000 per jaar (R500 000 in jou leeftyd). Jou bydraes is ook nie belastingaftrekbaar nie. Dus is ‘n belastingvrye belegging goed geposisioneer om ‘n uittree-annuïteit te komplementeer.
Uitkeerpolisse en effektetrusts het belastingimplikasies wat hulle uit ‘n belastingoogpunt minder effektief as uittree-annuïteite en belastingvrye beleggings maak.
Vir eers is dit genoeg om oor te gesels. Opsommend: uittree-annuïteite is die mees belastingeffektiewe manier van spaar, gevolg deur belastingvrye beleggings, uitkeerpolisse en dan effektetrusts. Effektetrusts is egter jou mees aanpasbare en toeganklike belegging, gevolg deur belastingvrye beleggings, uitkeerpolisse en laastens, uittree-annuïteite. Volgende week gee ek bietjie meer inligting oor dié spaarprodukte. – Horace Terry
horace@nassaux.com