VIDEO: Vakansie ontaard in nagmerrie vir Bfn-gesin

0
32700
Marius Griesel en sy vrou, Essie, vertel van hul nare vakansie-ervaring. FOTO: MARK STEENBOK

‘n Bloemfonteinse familie se heerlike Afrika-vakansie het in ‘n nagmerrie ontaard toe hulle met die gereg gebots het. Marius Griesel en sy vrou, Essie, sê hulle het ná ‘n heerlike vakansie ‘n wrang smaak in die mond nadat hulle Saterdag in die vroeë oggendure – net ‘n paar kilometer van hul huis af – deur die polisie gestop is.
Marius sê sy uitgebreide familie – altesaam 11 mense – het in twee voertuie gereis. Toe hulle naby die vulstasie in Kwaggafontein aangery kom, is hulle skielik tot stilstand gedwing.

‘n Ongemerkte Toyota het ons sowat vier kilometer van ons huis af, naby die vulstasie, tot stilstand gedwing. Twee mans met R4-gewere het uit die motor geklim

“‘n Ongemerkte Toyota het ons sowat vier kilometer van ons huis af, naby die vulstasie, tot stilstand gedwing. Twee mans met R4-gewere het uit die motor geklim,” vertel Marius. Hy sê hy het so groot geskrik en die eerste gedagte wat deur sy kop geskiet het, het hy minwetend hardop aan sy vrou gesê: “Essie, ons word gekaap.”
In ‘n oogwink, sê Marius, het polisievoertuie uit alle rigtings by hulle aangesluit. Dit het hom oortuig dat die twee mans in siviele klere polisiebeamptes moes wees. Hy sê hulle het egter, ten spyte van herhaalde versoeke van hom en Essie, geweier om hulself te identifiseer of om te verduidelik waaroor dit gaan. “Ek moes ‘n paar keer vra dat hulle nie vuurwapens so in my gesig druk nie en dat hulle asseblief my skoonma moet ontsien. “Sy is oud en het haar boeglam geskrik,” verduidelik Essie. Die polisiebeamptes het egter aangehou en het selfs daarop aangedring dat haar kleinkind wakker gemaak moet word.

“Ons kon vaagweg uitmaak dat die polisie ons motor vir dwelms en kreef wou deursoek. Hulle is deur al ons bagasie en het kort-kort op een van ons geskree,” vertel Essie. Sy sê die aantal polisiebeamptes op die toneel, die verskeie vangwaens met blou flikkerende ligte en die feit dat hulle so swaar gewapen was, was verskriklik traumaties.
“Die polisiebeamptes het nie eens my onderklere ontsien nie. Hulle het letterlik alles uitgepak en afgepak en rondgestrooi,” verduidelik Essie. Marius sê hierdie nagmerrie-ondervinding het vir nagenoeg 45 minute geduur. “Ons kon egter niks wys word oor waarom ons juis uitgekies is en hoekom dit gebeur het nie. Daar was tog nie ‘n padblokkade of enige polisie-gedrewe operasie nie,” verduidelik hy.
Marius sê hy voel sy gesin is baie onregverdig behandel en het daarom nou regsadvies ingewin om ‘n siviele eis teen die polisie in te dien. Bloemfontein Courant het die polisie vir kommentaar genader. – Cathy Dlodlo 
cathy@centralmediagroup.co.za