VIDEO: Massiewe sinkgat bedreig Noord-Kaap-pad

0
3247

ʼn Pretoria ingenieur met besoek aan die Noord-Kaap beveel aan dat die R31 tussen Kuruman en Daniëlskuil onmiddellik sluit weens die gevaar dat ʼn massiewe sinkgat die teerpad insluk. Melt Badenhorst het die toneel vanoggend besoek en het aan Courant gesê mense onderskat die krag van water. Hy sou die pad onmiddellik vir verkeer sluit.

Die sinkgat het verlede week Woensdagmiddag tydens ʼn swaar reënbui skielik ontwikkel en binne sowat twee uur het ʼn waterval ontwikkel wat binne in die sinkgat val. Die sinkgat is op plekke tot 100 meter lank en 30 meter diep en loop tot langs die R31 teerpad.

Badenhorst is van mening dat die pad binne die volgende paar uur deel van die sinkgat kan word en dat die situasie baie ernstig is.

Badenhorst sê hy het vanoggend ʼn voorlopige verslag aan die Noord-Kaapse Departement van Paaie gestuur en hulle ingelig oor die situasie soos hy dit sien. Badenhorst sê amptenare het aangedui dat hulle personeel na die toneel stuur.

ʼn Woordvoerder van die Noord-Kaapse Departement van Paaie, Crystal Robertson, se ʼn span ingenieurs van die departement het vanoggend die toneel besoek om die situasie te evalueer. Sy se tans is die pad oop en word vir verkeer gebruik.

Sy sê ʼn verslag sal deur die ondersoekers opgestel word met aanbevelings vir die departement. Robertson se die verslag was teen een uur vanmiddag nog nie beskikbaar om te sien wat die besluit is nie.

Sy sê die departement sal na die aanbevelings kyk en ʼn besluit maak of die pad gesluit gaan word vir verkeer en of daar ʼn aanbeveling gemaak sal word vir die gebruik van ʼn alternatiewe roete. – André Grobler/Courant-nuus