VIDEO: Evita kuier ná meer as ‘n dekade in Bloem

0
276
Oud-Suid-Afrikaanse Ambassadeur van Bapetikosweti (1981 – 1989), Evita Bezuidenhout.

Vir die eerste keer in meer as ‘n dekade maak Bloemfontein gereed om een van die land se mees uitgesproke politici en sosiale vlinders te ontvang wanneer die oud-Suid-Afrikaanse Ambassadeur van Bapetikosweti (1981 – 1989), Evita Bezuidenhout, vandeesweek die stad besoek.
Bloemfontein Courant het gaan inloer om meer uit te vind oor dié besoek, en te hoor wat sy dink van ‘n paar politieke gebeure wat onlangs media-opslae gemaak het.

Is dit waar dat jy sowat 11 jaar gelede laas in Bloemfontein gekuier het? Hoekom so lank terug?
Ja, 13 Maart 2006. Dit was vir die begrafnis van my man, Hasie, se jongste broer, Nantes de Villiers. Siestog. Trane en neuse wat loop – nie omdat hy dood was nie, maar omdat almal so deksels oud gelyk het. Ek was seker die jongste daar. Ek is bly om weer na Bloemfontein te kom, dié keer met glimlaggies en plesier. Live and lovely, of hoe?

Wat onthou jy van jou laaste optrede in Bloemfontein?
My vyfster-onthou was in 1994. Die ANC-party, ook toe die regering, het ‘n kongres in Bloemfontein gehou! En dít nogal op 16 Desember, ons ou Geloftedag. Cyril Ramaphosa het my namens president Mandela genooi om ‘n paar woorde te deel. Ek het begin om in stilte na hulle te kyk en die 2000 paar oë het teruggegluur. En toe praat ek: “Bloemfontein? I heard the ANC was in Bloemfontein and I thought: how would I ever find the ANC in Bloemfontein? And then I saw all the new Mercedes-Benzes, and here you are.” En almal het gelag, want dit wás waar!

Kom ons gesels ‘n bietjie oor die politiek daar in jou wêreld. Wat dink jy is die rede vir Patricia de Lille se uittrede as leier van die DA?
Sy is slim en wys en sy weet haar fokus is op die probleme van Kaapstad, want sy is burgemeester daar. Die leierskap van die party in die Wes-Kaap is ‘n bynes van woedende bruin bye! Dis die laaste ding was sy nodig het. En Patricia soek nog steeds daardie twee lede van die Independent Democrats wat in die Kaap vir haar wegkruip.

Het jy al ‘n draai by die Guptas se nuwe woning in Dubai gemaak? Hoe lyk dinge daar?
Nee, ek het in die kar bly sit terwyl Des van Rooyen vinnig met die hyser na bo is met die koffer. Hy’t gesê dis vol biltong en droëvrugte, maar nou dink ek dit was die koffer met die twee biljoen rand wat die Guptas uit SA gevat het. Wie weet? Niemand het vertel daar’s ook ‘n shebeen op die grondverdieping van hul Dubai-wolkekrabber nie.

Wat maak ons van die Oakbay-sage en Pravin, op wie se almal se oë is?
Ag, dis net politiek. En onthou, politiek is hier vanoggend, en weg vanaand. Ek bly maar stil oor staatskaping, want ek onthou te goed hoe heelwat families in ons duisend minuut-ryk ook goed gedoen het.

Daar is baie gissings oor wie president Zuma sal opvolg. Een van die name wat rondgeswaai word, is dié van die premier van die Vrystaat, Ace Magashule. Wat is jou mening hieroor en wie dink jy is die beste persoon om hom op te volg?
Ek ken vir Cyril goed. As julle tyd het, kyk op YouTube – dis Evita se Perron-kanaal – na my TV-onderhoud met Cyril terwyl ons in 1994 visvang. Nokosazana Dlamini-Zuma staan reg om koningin te speel en ek dink Jakob is lus vir haar daar, want dit sal hom beskerm. Dis soms maar alles so ná aan wat destyds in die ou Nasionale Party gebeur het – toe ons so onder mekaar baklei het vir status. Natuurlik ook verkondig daar is geen spanning in die party nie. Selle ou storie.

Behalwe vir al die amptelike sake, wat hoop jy om hier in Bloem vir ‘n bietjie ontspanning te doen?
Ek sal by Ace inloer, want hy kerm altyd dat die bobotie in Luthuli-huis opraak voordat hy daarby kan kom. Die Vrouemonument is baie na aan my hart en ek dink dan aan Emily Hobhouse. Sy’t gewys wat ‘n vrou kan doen ten spyte van al daardie mans.

Bezuidenhout is op 11 Februarie om 15:00 en 19:30 in die Sand du Plessis-teater te sien. Kaartjies kos R130, R180 en R250 (vir die drie rye met die beste sitplekke in die teater). Die tee en eetgoed word van 14:00 en van 18:00 af bedien. Dit is nie ingesluit by die kaartjieprys nie. Kaartjies is by Pacofs beskikbaar. Skakel 051-447-7772. – Maricelle Botha