Vermeende skieter gou in hof nadat Bangladesjiese man gewond is

0
472

‘n Man sal na verwagting môre in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn nadat hy na bewering ‘n Bangladesjiese man gister by sy motor in die middestad geskiet het. Polisiewoordvoerder, Chaka Marope, sê die 28-jarige verdagte het kort ná 08:00 op Rasal Mohammed afgepyl, ‘n vuurwapen uitgehaal en hom geskiet. Hy sê Mohammed het sy motor oopgesluit wat in Henrystraat gestaan het. Mohammed het pas terugekeer van ‘n bidsessie by ‘n plaaslike moskee. Die verdagte het ná die skietery weggehardloop en is naby die toneel deur polisiebeamptes wat die gebied gepatrolleer het, in hegtenis geneem. Nooddienste is ook ontbied en die beseerde Mohammed is na die Pelonomi-hospitaal geneem. Volgens Marope is ‘n gelaaide handgeweer met vyf rondtes in die verdagte se besit gevind.

Die motief vir die skietery is nog onbekend. Daar is egter ‘n vermoede dat dit ‘n voorbedagte aanval was, omdat Mohammed nie beroof is nie.  Die polisie ondersoek duur voort. Marope sê daar gaan nou vasgestel word of die vuurwapen wat gekonfiskeer is, nie in ander geweldsmisdade in Bloemfontein gebruik is nie.

Die verdagte staan tereg op ‘n aanklag van poging tot moord en die onwettige besit van ‘n vuurwapen. Provinsiale woordvoerder van die Departement van Gesondheid, Mondli Mvambi, sê Mohammed het behandeling vir sagteweefsel-wonde in die nek ontvang. Hy het nie ‘n operasie ondergaan nie. Mohammed kan moontlik vandag ontslaan word.  Mvambi sê hy was gisteraand wakker en het gepraat. – Christal-Lize Muller