Vermeende plaasaanvaller vandag in hof ná aanval op Ladybrand

0
401

‘n Vermeende plaasaanvaller sal na verwagting vandag in die landdroshof op Ladybrand verskyn in verband met die aanval op ‘n bejaarde boervrou op ‘n plaas in die distrik Marseilles.

Polisiewoordvoerder in die Vrystaat, Phumelelo Dhlamini, sê die 65-jarige Hazel Meiyer is aangerand en het ernstige beserings aan die gesig opgedoen toe sy Saterdag omstreeks 16:30 deur ‘n 24-jarige inbreker aangerand en met ‘n bottel in die gesig geslaan is.

Meiyer was alleen tuis. Haar man Klaus was elders op die plaas. Dhlamini sê Meiyer se aanvaller het toegang tot die plaashuis verkry deur ‘n skuifdeur oop te breek. Die polisie is ontbied.

Die polisie op die toneel het inligting ontvang oor waar die verdagte homself kan bevind. Hulle het die inligting opgevolg en die man, vermoedelik ‘n voormalige werknemer op die plaas, is omstreeks 19:00 op ‘n buurplaas in hegtenis geneem.

‘n Bebloede T-hemp is in sy besit gevind. Dhlamini sê die kledingstuk is vir forensiese toetse gestuur om vas te stel of dit die slagoffer se bloed op die T-hemp is.

Dhlamini sê ‘n televisiestel wat tydens die rooftog uit die plaashuis gebuit is, is ook gekonfiskeer.

Intussen sê ER24 se woordvoerder, Werner Vermaak, Meiyer is by ‘n dokter se spreekkamer op Ladybrand deur paramedici behandel nadat familielede in die plaashuis op haar afgekom het.

Sy het ernstige frakture in die gesig opgedoen. Sy is na ‘n hospitaal in Bloemfontein vervoer. – Christal-Lize Muller/Courant-nuus