Vermaas en Le Roux behaal podiumplekke

0
145
Jayme-Sue Vermaas is hier in aksie tydens Sondag se Midlands Ultra-driekampbyeenkoms wat by Midmar in KwaZulu-Natal beslis is. Sy het tweede in haar afdeling geëindig. Sy het die vorige dag die Vrystaat-titel in Bloemfontein gebuit en was Sondag reeds weer in aksie in KZN. FOTO: ADRI VERMAAS

Twee van die Vrystaat se voorste driekampatlete onder die skoner geslag, Jayme-Sue Vermaas en Madelaine le Roux, was Sondag onderskeidelik tweede en derde op die Midlands Ultra-driekampbyeenkoms wat by Midmar in KwaZulu-Natal beslis is.

Hulle het albei aan die korter weergawe, wat in driekamp bekendstaan as die “sprint”, deelgeneem. Vermaas en Le Roux is deur die relatief onbekende driekamper, Amber Schlebusch van die gasheerprovinsie, die loef afgesteek. Schlebusch is weliswaar nie so bekend in driekampkringe nie, maar sy het haar, na wat verneem word, reeds in die veelkampsportsoort, biathle, gestand gedoen en ‘n medalje op die wêreldkampioenskap gebuit.

Schlebusch het haar Sondag onteenseglik bewys as ‘n kranige swemmer en het Vermaas en Le Roux goed agterweë gelaat in die swemskof. Sy het ‘n haastige 7:55 losgeswem terwyl Vermaas 8:33 aangeteken het. Le Roux, wat ‘n goeie swemskof beleef het, was slegs een sekonde agter (8:34) Vermaas uit die water.

Courant gebruik die amptelike uitslae van www.finishtime.co.za vir hierdie verslag, maar daar is vir seker skoftye en selfs ‘n eindtyd wat onder verdenking is. Volgens genoemde webtuiste het Schlebusch haar voorsprong ná die swem vergroot nadat sy 36:21 in die fietsryskof losgetrap het. Volgens die fietsrytye volgens die amptelike tydhouers moes Schlebusch (36:21) reeds ‘n noemenswaardige gaping op Vermaas (37:12) bewerkstellig het. Inteendeel, volgens die uitslagadvies moes Le Roux wat volgens die webtuiste 37:01 losgetrap het, vir seker by Vermaas verby gejaag het.

Schlebusch het volgens die uitslae die hardloopskof in 23:33 voltooi teenoor die 23:09 waarmee Vermaas haar ingehaal het. Le Roux (24:44) het ‘n beskeie hardloopskof afgedraf en die koeël was deur die kerk dat sy nie goud of silwer in haar sak gaan steek nie. Haar eindtyd was 1:12:43.

En hier is nog ‘n tameletjie – Schlebusch en Vermaas se eindtye is as presies dieselfde aangegee (1:10:28), maar dit was duidelik vir toeskouers en ondersteuners dat Vermaas sowat 15 sekondes agter Schlebusch geëindig het.

Wat Vermaas se vertoning egter meer aansien verleen, is dat sy die vorige dag nog in Bloemfontein aan die Vrystaat-kampioenskap deelgeneem het en direk daarna na Midmar vertrek het om kragte op dié byeenkoms te meet.

Een ding is seker – Vermaas en Le Roux gaan nie op hul louere kan rus met die spreekwoordelike “new kid (Schlebusch) on the block” nie. – RUFUS BOTHA