Video: Vere maak nie dié voël nie

0
801

‘n Lovebird van Pretoria, genaamd Kaalgat, se besoekie aan Bloemfontein is sover wonderlik, want dié veerlose voël se vere groei weer uit. Die uitdrukking ‘die vere maak nie die voël nie’ het die afgelope paar weke ‘n ‘nuwe’ betekenis gekry, want sonder ‘n veer aan sy lyf was hy steeds ‘n liefdevolle groen ringnek.
So vyf dae gelede het die wonderwerk voor die Van Dalen-familie se oë begin afspeel. Nuwe veertjies is by die voël se koppie en pootjies gesien.

Estelle van Dalen met "Kaalgat" op die skouer, terwyl haar ma, Hettie, toekyk hoe die voël na haar probeer kom.
Estelle van Dalen met “Kaalgat” op die skouer, terwyl haar ma, Hettie, toekyk hoe die voël na haar probeer kom.

“Ons kan dit nie glo nie. Vyf dae nadat ons hom begin behandel het met olies en tonikum, begin sy vere weer uitkom. Teen die tyd dat hy teruggaan Pretoria toe, sal die voël geveerd wees,” vertel Estelle van Dalen van die voorstad Genl. De Wet in Bloemfontein.
Haar ouers, Hettie en Connie van Dalen, het aan die begin van Julie na Bloemfontein gekom vir ‘n familiebegrafnis. Hulle het die weesvoël, wie se vorige eienaars albei skielik oorlede is, saamgebring. Hulle het hom aangeneem.
“Ons moet nou ‘n ander naam vir hom kry. ‘Kaalgat’ is nie meer reg nie,” sê Estelle.
Hulle het gedink aan die naam Chippie, maar daarteen besluit. Toe dink hulle aan iets wat sy maer, krom bene beskryf en kom by die naam Kiewiet uit. “Nee, dit is ook nie mooi nie. Ons soek na ‘n mooi naam,” sê sy.

Connie en sy vrou, Hettie van Dalen, by "Kaalgat" wat sy gunsteling-jassie aan het. Fotos: Sandra Mulder
Connie en sy vrou, Hettie van Dalen, by “Kaalgat” wat sy gunsteling-jassie aan het.
Fotos: Sandra Mulder

Terwyl hulle ‘n gepaste naam soek, hou Kaalgat hulle baie besig. Medikasie wat Debbie van den Berg van Pet’s World vir hulle gegee het, doen die ‘trick’.
Parrot Tonic word in sy drinkwater gegooi. Skin and Plumage Oil word met sy kos gemeng en Wound and Skin Spray op hom gespuit, want hy probeer vlieg en beseer homself deurdat sy vlerkies teen alles kap.
Hoewel hy eers sal moet wag vir al die vere om terug te groei voordat hy soos ‘n ware voël sal kan vlieg, het sy “stem” wel teruggekom.
“Ons is regtig baie bly, want hy het ook die afgelope paar dae begin fluit,” sê Estelle. – Sandra Mulder
sandram@centralmediagroup.co.za