Verdagtes in hof oor jagtogte met hond op plase

0
333

Die polisie in die Vrystaat het bevestig dat sewe mans, wat na bewering op ‘n plaas by Heilbron honde gebruik het om onwettig mee te jag, in hegtenis geneem is. Dit kom nadat boere van dié distrik gister nege mans met tussen 20 en 30 honde op ‘n plaas buite die dorp aangekeer het. ‘n Volstruis is deur die honde in ‘n jagtog doodgebyt. Twee booswigte het weggehardloop, maar boere kon hul ander makkers aankeer en die mans is aan die polisie oorhandig. Polisiewoordvoerder, Livhuhani Hani, sê die verdagtes sal na verwagting vandag in die plaaslike landdroshof verskyn. Hulle staan tereg op aanklagte van betreding en die gebruik van honde om mee te jag sonder toestemming. Sy sê hulle word ook aangekla van ‘n misdryf wat in stryd is met die omheiningswet.

Hani sê nog twee verdagtes sal vandag na verwagting in die landdroshof op Heilbron verskyn nadat hulle in ‘n afsonderlike voorval, ook gister, deur boere op ‘n plaas ‘n ent verder vanwaar daar met honde gejag is, aangekeer is. Die mans is in besit van beweerde gesteelde dakplate en balke van ‘n opstal op die onbewoonde plaas gevind. Volgens Hani staan die mans tereg op ‘n aanklag van diefstal.

Esterhuyse sê in nog ‘n voorval gister is ‘n Springbokkie op ‘n plaas naby Edenville deur honde, wat vermoedelik ook in ‘n jagtog gebruik is, doodgebyt. Die honde het die bokkie deur drade op ‘n plaas gejaag. Esterhuyse sê die booswigte is aangekeer. Die polisie op Edenville het die voorval nog nie bevestig nie.

Wrede honde word vir dié jagtogte gebruik sodat honde-eienaars só vleis kan bekom. Weddenskappe word ook aangegaan deur eienaars van hierdie honde wat geld wen sodra hul hond die eerste is wat ‘n ander dier op ‘n plaas doodbyt. – Christal-Lize Muller