Verdagte gewond en ‘n ander gesoek ná mislukte Wepener-plaasaanval

0
171
Die polisie in die Vrystaat soek steeds na ‘n vermeende aanvaller in verband met ‘n skietvoorval op ‘n plaas buite Wepener vandeesweek.

Polisiewoordvoerder, Yanga Ngcukana, sê twee mans het Woensdag omstreeks 09:00 op die 74-jarige Karel Hoffman, wat buite op sy plaaswerf geloop het, geskiet.

Ngcukana sê Hoffmann loop gereeld in die veld tussen sy vee en gaan ook die heinings na. Hoffman se plaas is naby die Lesotho-grens. Volgens Ngcukana was Hoffman byna klaar toe hy stemme naby hom gehoor het. Hy het twee mans gesien en in hul rigting geskree. Die mans het na bewering ‘n vuurwapen uitgehaal en op Hoffman losgetrek. Hy het skuiling gevind.

Nguckana sê Hoffman het teruggeskiet en een van die mans in albei bene gewond. Dié gewonde man en sy makker het toe weggehardloop. Die man met skietwonde aan sy bene is later op Hoffman se plaas in die veld deur die polisie aangetref. Hy is in hegtenis geneem en is tans onder polisiebewaking in ‘n hospitaal in Bloemfontein. ‘n Geskokte Hoffman is ongedeerd.

Ngcukana sê die ander man het weggekom. Die polisie ondersoek ‘n klag van poging tot moord. Die verdagte sal in die hof verskyn sodra hy uit die hospitaal ontslaan word, sê Ngcukana.

Intussen sê die Wepener-landbouvereniging se voorsitter, Ulrich Wagener, boere van die distrik was vinnig om te reageer.

Daar is ‘n veiligheidsplan in plek en boere werk nou saam met die polisie. Hy sê mense in die distrik sal alles doen om mekaar te help in omstandighede. Almal in die distrik staan saam en vat hande in die stryd teen misdaad. – Christal-Lize Muller