Veiligheid ‘n prioriteit by Sewe Damme-bewarea

0
607
Lede van die Bayswater-misdaadvoorkomingseenheid, in samewerking met die Wild Olive Estate en lede van die Sewe Damme-bewarea, het Vrydag ingegryp om die gebied te fynkam.

Die bestuur van Sewe Damme-bewarea in Bloemfontein, in samewerking met verskeie rolspelers, sal voortaan die gebied meer gereeld fynkam om die veiligheid van inwoners te verseker.
Dit volgens Jo Hiemstra, voorsitter van Sewe Damme-bewarea, nadat die polisie, inwoners en lede van die Wild Olive Estate, Vrydag byeen gekom het om die gebied te deursoek vir moontlike oortreders.
Hiemstra is van mening dat hulle nou baie meer gefokus is op veiligheid nadat die 50-jarige Magteld Smith meer as twee weke gelede in die bewarea, waar stappers en fietsryers in die natuur ontspan, deur ‘n middeljarige man met ‘n mes gesteek, geslaan en gebyt is. Sy het met haar worshonde in die gebied gaan stap.
“Ons kan nie op ‘n vasgestelde skedule werk nie, maar daar sal voortaan gereeld patrollies wees. Lede van Sewe Damme en vriende sal ook betrek word. Elke week is daar ‘n vergadering met die verskeie rolspelers, so ons is nou baie meer gefokus daarop.
“Dit is ‘n baie positiewe ontwikkeling uit ‘n baie negatiewe insident,” sê Hiemstra.
Hy sê daar is egter steeds ‘n probleem met die omheining van die gebied. “Vir ons is die hele Rayton-kant van die bewarea wat nog nie omhein is nie, ‘n baie groot probleem. Ons het geweldige befondsing nodig om ‘n effektiewe heining op te rig,” sê Hiemstra.
Polisiewoordvoerder Chaka Marope sê nog niemand is weens die aanval op Smith in hegtenis geneem nie.
Smith het aan Courant gesê sy het nie die middeljarige man agter haar gehoor nie. Hy was geklee in ‘n geel, groen en rooi gebreide mus, ‘n swart broek en skoene sonder kouse. – Mark Steenbok
mark@centralmediagroup.co.za