UV-studente ongelukkig oor ontruiming van koshuise

0
550
Studente aan die Universiteit van die Vrystaat verskil dalk oor die geldigheid van die Fees Must Fall protesaksies en eise, maar die meeste van hulle stem saam oor die bestuur se besluit om die UV tot 28 Oktober te sluit.

Verskeie studente het vanoggend gekla oor wat hulle beskryf as swak bestuur en kommunikasie, omdat hulle slegs twee dae kennis gegee is om koshuise te ontruim en ander verblyf te soek.

Die UV het vanoggend dié besluit bekend gemaak, na dae se konsultasie met belanghebbendes.

Lede van die Free Education Movement by die UV sê egter die universiteit se gesprekke met hulle, het geensins aangedui dat hierdie besluit op pad is nie. Hulle moedig studente aan om te weier om die kampus te verlaat.

Verskeie lede van die beweging is na bewering vanoggend op die Bloemfonteinkampus in hegtenis geneem, en hoewel die situasie tans kalm is, is daar steeds ‘n sterk polisieteenwoordigheid.

Die Universiteit se woordvoerder, Lacea Loader, sê hulle het al die risiko’s sorgvuldig oorweeg voordat die besluit geneem is.

“Die twee weke gaan gebruik word om kritiese en komplekse reëlings te tref ten einde die akademiese kalender aan te pas en te verseker dat alle studente hul studies kan voltooi. Die universiteit sal egter nie vir die res van die jaar sluit nie,” het Loader gesê.

Earl Coetzee en Karien Jordaan