UV-appèl oor taalbeleid in November aangehoor

0
249
Foto: André Grobler

Die Appèlhof het aangedui dat dit die appèlle van die Universiteit van die Vrystaat oor sy nuwe taalbeleid in November sal aanhoor.

Die UV het vroeër die maand ‘n dringende aansoek om verlof tot appèl ingedien om te appelleer teen twee besluite in die Vrystaatse Hooggeregshof in die guns van die burgerregte organisasie AfriForum en Solidariteit.

Die UV wil appelleer teen die bevele deur ‘n volbank regters op 12 September in Bloemfontein.

Dit volg nadat die UV in Maart besluit het dat Engels in 2017 die primêre onderrigtaal sal wees vir studente op al sy kampusse. AfriForum het die taalbesluit in die hof getoets en dit is hersien en onwettig verklaar.

Die UV het daarna aansoek gedoen om teen dié Hooggeregshofuitspraak in die Appèlhof in Bloemfontein te appelleer.

Die Hooggeregshof het ook die inwerkingstelling van die UV se nuwe taalbeleid voorlopig uitgestel totdat die saak in die howe afgehandel is.

Die UV appelleer teen dié besluite en kostebevele deur die Hooggeregshof. –
André Grobler/andreg@centralmediagroup.co.za